OUDTSHOORN NUUS - Die 1975 eerste span van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Oudtshoorn het die afgelope naweek by Langenhoven Gimnasium bymekaargekom vir 'n spesiale reünie wat herinneringe en kameraderie laat herleef het.
Volgens André (Pinok) du Preez, destydse kaptein van die span, het 12 van die oorspronklike 16 spelers die geleentheid bygewoon. Twee van hul spanmaats is intussen oorlede, en hul nagedagtenis is met eer betoon.
Die HTS se eerste span het in 1974 én 1975 as SWD-ligakampioene uit die stryd getree, 'n merkwaardige prestasie wat steeds trots ontlok onder dié oudleerders. In die 1975-seisoen het die span 12 wedstryde gespeel, waarvan hulle nege gewen, twee verloor en een gelykop gespeel het.
Van links is Tones (Bulldog) Fourie, André du Preez en Piet (Piet Tekkie) du Preez. Foto: Liezl van Niekerk
Wat die reünie nóg meer besonders gemaak het, was die teenwoordigheid van 'n dirigent en hul twee afrigters, Tones (Bulldog) Fourie en Piet (Piet Tekkie) du Preez, wat destyds 'n groot rol in die span se sukses gespeel het. Du Preez het ook vertel van die skool se kreet wat al die seuns op die pawiljoen uit volle bors voor elke eerstespanwedstryd geskree het, wat tot onder in die dorp weergalm het.
"Dit het die opposisie se broeke laat bewe!" vertel hy.
Die oudspelers en afrigters wat die reünie bygewoon het.
Hulle het die naweek weer die kreet laat herleef en was een van die hoogte punte van die naweek.
Die naweek was gevul met nostalgie, lag en herinneringe aan 'n era toe span- en skoolgees hoogty gevier het. "Dit was wonderlik om almal ná soveel jare weer saam te hê. Ons het sommer weer gevoel soos daardie 18-jarige seuns van destyds."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’