OUDTSHOORN NUUS - Wat veronderstel was om 'n vreugde-volle familiesaamtrek vir 'n 21ste verjaarsdagviering te wees, het tragies geëindig toe 'n 19-jarige jongman verdrink het.
Die oorledene, Heinrique van Niekerk, het saam met sy familie van Riverlands, 'n dorpie tussen Malmesbury en Atlantis, na Zoar gereis om sy neef, Donnè-Deo Manuel, se verjaarsdag te vier.
Volgens Jo-Ann Buys, Donnè-Deo se moeder, het die twee neefs mekaar meer as 'n jaar laas gesien, en die naweek was vir hulle 'n spesiale hereniging.
Die 21ste verjaarsdagviering het Saterdagaand, 11 Oktober, by 'n restaurant in Ladismith plaasgevind. Daarna het die neefs en ander familielede op die gasteplaas, Waterval, in Seweweekspoort oornag. Die volgende oggend het hulle besluit om by 'n nabygeleë dam te gaan swem.
"Dit het gelyk asof Heinrique moeg geword het en in die moeilikheid beland het. My seun het dadelik probeer help," vertel Buys.
Nog vier familielede, wat later by die dam aangesluit het, het gesien wat gebeur en ingespring om hulp te verleen, maar moes self weer na veiligheid swem toe die reddingspoging tevergeefs blyk te wees.
"Heinrique het hard probeer om na veiligheid te swem, maar het uiteindelik onder die water verdwyn," sê sy.
Polisieduikers en lede van die plaaslike brandweer het later die liggaam opgespoor en na die oppervlak gebring.
"Dit was vir my seun baie traumaties," sê Buys. "Hy skrik snags wakker en huil nog baie oor wat gebeur het."
Sy het haar dank uitgespreek teenoor Keith Johannes van die brandweer, Janine Ruiters, en lede van die publiek vir hul hulp en ondersteuning tydens die tragedie.
Begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie. Die Van Niekerk-familie is afkomstig van Riverlands in die Wes-Kaap.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek deur die Ladismith-polisie geopen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’