Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matrikulant, Marilize Nortier, in September 2019 gesterf het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof aan strafbare manslag skuldig bevind.
Sydney Berry (25), van Groot-Brakrivier, is egter onskuldig bevind op twee ander aanklagte, roekelose en nalatige bestuur, asook versuim om hulp op 'n ongelukstoneel te verleen.
Oudtshoorn Courant het in 2019 berig Marilize was in die wrak vasgekeer en het verdrink nadat die motor op die passasierskant in die vlak water te lande gekom het. Die botsing het in die vroeë oggendure gebeur toe die BMW op die grottepad die pad verlaat en in 'n waterkanaal te lande gekom het. Plaaswerkers het die wrak eers teen 07:30 opgemerk waar dit op die sykant in die water lê.
Sy was nog in die passasierssitplek vasgegordel. Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het toegegee dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat Berry versuim het om hulp op 'n ongelukstoneel te verleen nie.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het betoog dat hy ook op die aanklag van strafbare manslag vrygespreek behoort te word.
Berry het onskuldig gepleit en volgehou dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie, en beslis hulp sou verleen het, indien hy geweet het dat daar iemand in sy motor was.
Hy het wel getuig dat hy moontlik vir 'n dier kon weggeswaai het wat oor die pad gehardloop het.
Landdros Vaughn Shone het in sy uitspraak gesê Berry het erken dat hy die bestuurder van die motor was en hy die betrokke aand nadat hy sy vriende, Stephen Knoop en die twee Lilly-broers, Lucas en Errin, afgelaai het op die grottepad gery het. Hy kan egter nie onthou waarom hy daar gery het nie.
Hy het ook nie geweet dat daar na die ongeluk nog iemand in die motor was nie. Hy het sy bewussyn verloor en eers later herwin.
Volgens 'n lykskouing het Marilize verdrink.
Die hof het bevind dat Berry onregmatig die ongeluk en die dood van Nortjé veroorsaak het. Daar was geen ooggetuies van die ongeluk nie en volgens die ongelukverslag het die motor ook geen meganiese probleem gehad nie. Die hof het ook bevind dat daar nie genoegsame getuienis voor die hof gebring is dat Berry onder die invloed van drank was nie. Hy self het getuig dat hy vir die aand net een dubbele brandewyn en Coke gedrink het.
Bulelani Bans het na Berry se skuldig-bevinding die hof versoek om die saak vir proefbeampte- en korrektiewe verslae uit te stel en Berry se waarskuwing verleng moet word.
Volgens hom het Berry van die begin af sy samewerking aan die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger, verleen en steeds by dieselfde adres woonagtig is. Hy is ook nie 'n vlugrisiko nie.
Die saak is vir betoë en vonnis uitgestel tot 13 Julie.
Sydney Berry Dinsdagoggend voor die Oudts-hoorn-landdroshof na sy skuldigbevinding aan strafbare manslag. Foto: Garnett Wicomb
Lees vorige artikels:
- Saak teen Sydney Berry vir uitspraak uitgestel
- Berry-verhoor word weereens uitgestel
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
Die motor waarin Marilize Nortier oorlede is.Foto: Hannes Visser
Sydney Berry en sy regsverteenwoordiger, Bulelani Jerome Bans, voor die hof in 2021. Foto: Hannes Visser
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’