OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die bestuurder van die motor waarin 'n 18-jarige matriekleerder, Marilize Nortier, die aand van 22 September 2019 gesterf het, het uiteindelik Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof begin.
Volgens Bulelani Bans, regsverteenwoordiger van die beskuldigde, Sidney Berry, het iets gebeur wat tot die ongeluk gelei het, maar dat hy nie kan onthou wat dit was nie.
Hy was daarna bewusteloos en toe hy bykom, het hy agtergekom hulle was in 'n ongeluk. Hy het toe uit die motor geklim en na die pad gestap om karre te stop. Niemand het egter gestop nie en dit was eers teen dagbreek dat Leon Botha en sy vriendin gestop en hom opgelaai het.
So het Bans verlede Vrydag met die aanvang van die verhoor gesê.
Berry staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en versuim om by 'n ongelukstoneel hulp te verleen.
Volgens Botha se getuienis het hy die motor van Berry op sy passasierskant in die sloot met water sien lê.
Berry het 'n wond aan die kant van sy gesig gehad en hy het hom na sy woning geneem.
Volgens hom, het Berry so erg na drank geruik dat hy sy motorvenster oopgedraai het.
Hy het egter op 'n vraag van Bans getuig dat Berry koel en kalm opgetree het, nie geslinger of onsamehangend gepraat het nie.
Bans het dit aan Botha gestel dat die feit dat die beskuldigde koel en kalm opgetree het nie beteken dat hy nie omgegee het nie.
"Verskillende mense tree op verskillende wyse op nadat hulle skok opgedoen het," het Bans gesê.
Hy het dit voorts aan Botha gestel dat Berry tydens die ongeluk harsingskudding opgedoen het en later die dag van die Oudtshoorn-hospitaal na 'n hospitaal in George oorgeplaas moes word.
"Die beskuldigde sou dus nie ná die ongeluk normaal kon optree nie en daarom nie hulp kon verleen nie."
Volgens Bans was Berry en sy vriende die betrokke aand by die kuierplek, Die Braai Kraal, en sou hy by 'n vriend oorslaap.
Die oorledene was ook saam met vriende by die kuierplek.
Hy was vroeër die aand met haar in 'n gesprek en toe hy en sy vriend kort voor toemaaktyd wou ry het sy by hulle aangesluit.
Nadat hy sy vriend buite Oudtshoorn afgelaai het, was hy en die oorledene op die grottepad onderweg na Oudtshoorn toe die ongeluk gebeur het.
Volgens hom was sy heeltyd op haar selfoon, maar weet nie met wie sy gesels het nie. Sy was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is en 'n het volgens 'n nadoodse ondersoek verdrink.
Die saak is Vrydag na die kruisondervraging van Botha vir verdere getuienis tot 20 en 21 April uitgestel.
Jacolize Jordaan verskyn namens die staat. Berry is op waarskuwing vrygelaat.
Lees vorige artikels:
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'