Update
OUDTSHOORN NUUS - Die kerkgebou van die NG Kerk Welgeluk, Oudtshoorn in Parkweg was Dinsdag stampvol vir die troosdiens van Marilize Nortier wat voorverlede Sondag in 'n botsing gesterf het.
Marilize was 'n matrikulant by Langenhoven Gimnasium en medeleerders en onderwysers was deel van die groot groep mense wat die diens bygewoon het.
Die diens is deur ds. Andries Potgieter gelei. Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig oor die tragiese botsing waarin Marilize in die vroeë oggendure van Sondag 22 September gesterf het.
Sy was 'n passasier in 'n wit BMW toe dit op die grottepad buite beheer geraak het en in 'n waterkanaal beland het.
Marilize was in die wrak vasgekeer en het verdrink nadat die motor op die passasierskant in die vlak water te lande gekom het. Die polisie het bevestig dat 'n klag van strafbare manslag ondersoek word.
Leerders van Langenhoven Gimnasium tydens die troosdiens Dinsdagmiddag. Foto: Erna Conradie.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die polisie op Oudtshoorn het hierdie week gesê dat die ondersoek voortgaan en dat alle inligting tans bevestig word voordat dit aan die hof voorgelê word. Hy het ook 'n beroep op mense gedoen om nie te reageer op gerugte en bespiegelinge wat die rondte doen nie.
"Die gebeure en gerugte kan nie buite die hof in konteks geplaas word nie en veroorsaak meer vrae as antwoorde," het hy gesê.
Marilize se pa, Morné Nortier, het verlede week gesê hulle laat die ondersoek aan die polisie oor sodat geregtigheid kan geskied en die waarheid rondom hulle dogter se dood kan uitkom.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'