Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Nadoodse ondersoek het bevestig dat die matrikulant, Marilize Nortier (18), op 'n botsingstoneel verdrink het.
Die 18-jarige Marilize Nortier wat Sondagoggend in 'n botsing op die grottepad gesterf het, het op die toneel verdrink. Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het 'n nadoodse ondersoek bevind dat Marilize veelvuldige beserings tydens die botsing opgedoen het, maar aan verdrinking dood is.
Sy was 'n passasier in 'n wit BMW toe die motor in die vroeë oggendure die pad verlaat het en in 'n waterkanaal langs die grottepad beland het.
Die motor het vanuit die rigting van die grotte gekom en skynbaar in 'n draai reguit gery waarna dit die pad verlaat het en deur 'n plaasheining gebars het. Nadat die motor deur die heining is, het dit deur die lug oor die kanaal getrek en die oorkantste wal getref.
Die motor het daarna op die passasierskant in die water in die kanaal beland. Dit is onduidelik hoe laat die botsing gebeur het, maar terwyl die Oudtshoorn Courant op die toneel was het 'n werker wat sowat 'n kilometer van die toneel woon, aan mense gesê hy het om ongeveer 04:00 'n harde slag gehoor.
Die motor met die oorledene steeds in die passasiersitplek vasgegordel, is egter eers teen ongeveer 07:30 deur plaaswerkers wat naby die kanaal verby gestap het, opgemerk. Hulle het dadelik die plaasbestuurder gekontak.
Die wrak van die motor nadat dit oopgensy is en die liggaam uitgehaal is.
Die plaasbestuurder het aan die Oudtshoorn Courant gesê toe hy op die toneel kom het die motor nog op die sykant in die water gelê en die oorledene se kop was onder die water. Hy het die nooddienste ontbied en met die hulp van werkers bande aan die motor vasgemaak en die motor op sy wiele getrek.
Die polisie het die botsingstoneel afgesper en alle omstanders is gevra om aan die oorkant van die pad te staan terwyl die toneel gefotografeer en opgemeet is. Hulle het ook besittings aan die oorkant van die kanaal, waar die motor die wal getref het, bymekaargemaak. Een van die besittngs was 'n pienk oornagsak wat aan die oorledene behoort het.
Nadat die polisie se PKRS-afdeling hulle werk op die toneel afgehandel het, het nooddienswerkers begin om die motor se deur en dak af te sny om die oorledene se liggaam te bevry en uit te haal. Dit het sowat 45 minute geneem.
Meer vrae as antwoorde
Nadat Marilize se pa, Morné Nortier, Dinsdag aangedui het dat nie hy of Marilize se ma, Suné, kommentaar gaan lewer nie, het hy Woensdagmiddag met die media gepraat. Hy het gesê hy wil nie bespiegel nie en dat hy die polisie-ondersoek vertrou.
Hy het egter gesê dat die familie met 'n hele aantal onbeantwoorde vrae sit en net kan hoop dat die vrae met die ondersoek beantwoord sal word.
Die botsingstoneel met die bakkie van die boer wat eerste op die toneel was. Die rooi pyl dui die plek aan waar die BMW deur die lug begin trek het, Die wit pyl dui die besittings aan op die plek waar die BMW die oorkantste wal van die kanaal getref het en die geel pyl dui aan waar die motor in die kanaal tot stilstand gekom het. Foto's: Hannes Visser
'n Familielid van die Nortiers het 'n Facebookblad, Truth4Marilize, gestig waar mense wat enige inligting oor die botsing of die gebeure wat die botsing voorafgegaan het, gevra word om hulle inligting te deel. Die persoon wat die blad begin het, het gesê die doel van die blad is nie om in te meng of om aantygings te maak of mense te inkrimineer nie.
Volgens hom is die blad uitsluitlik geskep om 'n platform te bied waarvolgens inligting gebruik kan word om 'n tydlyn van die nag se gebeure op te stel.
Teen gisteroggend het verskeie mense, waaronder 'n vriendin van Marilize, op die blad bevestig dat die groep vroeër die aand by 'n kuierplek was. Dit is egter nie duidelik hoe laat Marilize en die bestuurder van die BMW die plek verlaat het en waarheen hulle daarna is nie. Dit is ook onduidelik wat hulle op die grottepad gesoek het, aangesien die kuierplek in die dorp is.
Die grootste vraag waaroor almal egter gis is die gedrag van die bestuurder na afloop van die botsing. Dit blyk dat iemand hom voor 07:00 langs die pad aangetref het en hom van die toneel weggeneem het sonder dat hy aangedui het daar is nog iemand in die motor nie.
Die Oudtshoorn Courant het probeer om die persoon op te spoor wat die bestuurder langs die pad aangetref het, maar kon nie 'n naam of kontaknommer kry nie. Volgens inligting wat op die toneel uit verskeie oorde gehoor is, het die bestuurder van die BMW se ma hom omstreeks 08:00 by die toneel opgelaai en George toe geneem.
Teen daardie tyd was almal reeds bewus daarvan dat daar 'n liggaam in die BMW is.
Volgens verdere inligting het die bestuurder glo Sondagmiddag reeds 'n prokureur aangestel wat navrae hanteer. Nortier het Woensdagmiddag gesê die wete dat sy dogter nog gelewe het en toe verdrink het, altyd by hom sal spook. "Daar is soveel vrae wat net die bestuurder sal kan antwoord, en Marilize is weg en daarom vertrou ons dat die ondersoek van die vrae sal beantwoord."
Visser het bevestig dat 'n klag van strafbare manslag ondersoek word, maar dat daar nog geen arrestasie plaasgevind het nie.
Nooddienswerkers begin om die dak van die motor te verwyder om die liggaam uit te haal.
Roudiens
Marilize se roudiens vind Dinsdagmiddag om 13:00 in die Welgeluk NG-kerk in Parkweg plaas.
Lees 'n vorige artikels hier: Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'