Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, het Vrydag weer vlugtig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die 23-jarige Sydney Berry van George staan tereg op aanklag van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by 'n ongelukstoneel hulp te verleen na 'n botsing.
Die BMW waarin Nortier 'n passasier was, het in die vroeë oggendure tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte die pad verlaat en in 'n watervoor beland.
Die presiese tyd van die ongeluk is onbekend. Plaaswerkers wat deur die landerye gestap het, het die motorwrak, wat op die passasierskant in die water gelê het, omstreeks 07:30 opgemerk en besef daar is iemand in die motor.
Berry het toe reeds die toneel verlaat en later toe reddingswerkers op die toneel was, teruggekeer.
Hy is later weer daar weg nadat iemand hom opgelaai het.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is en 'n nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het.
Landdros René Gerber het die saak Vrydag vir instruksies aan Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans van Dercksens Prokureurs, Knysna, tot 26 Februarie uitgestel.
Berry is op waarskuwing.
Vorige artikels:
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'