Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier, in 2019 gesterf het, nadat dit in ‘n watersloot langs die Kango-grotte-pad beland het, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof na die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak tot 30 Mei uitgestel.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het toegegee dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat Sidney Berry (25) versuim het om hulp op ‘n ongelukstoneel te verleen nie, maar hy wel skuldig bevind kan word aan die hoofaanklag van strafbare manslag.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, is egter van mening dat hy ook op dié aanklag vrygespreek behoort te word.
Berry van Groot-Brakrivier wat onskuldig pleit, het volgehou dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie en beslis hulp sou verleen het, indien hy geweet het dat daar iemand in sy motor was.
Die staatsaanklaer het na die opsomming van die getuienis voor die hof gesê dat die beskuldigde nie as ‘n goeie getuie gekwalifiseer kan word nie.
“Die beskuldigde het getuig dat hy nooit vinnig ry in ‘n residensiële gebied nie en dit is nie ‘n goeie antwoord nie omdat die ongeluk op die grottepad plaasgevind het,” het Jordaan gesê.
Voorts het hy getuig dat hy nie kan onthou wat gebeur het nie, maar het tog op ‘n stadium gesê dat iets voor hom oor die pad kon gehardloop het.
Sy het toegegee dat daar weersprekings was in die getuienis van staatsgetuies en hul verklarings aan die polisie.
Volgens haar het die meeste van die staatsgetuies die betrokke aand gedrink behalwe die kroegman, André Burger.
Bans het betoog dat Berry nie ontken dat hy die bestuurder van die ongeluksmotor was nie, dat hy wel daardie betrokke aand op die grottepad gery het, maar nie kan sê wat die oorsaak van die ongeluk was nie.
Daar was ook geen ooggetuies nie.
Volgens Bans was Stephen Knoop seker die eerlikste van die staatsgetuies wat die betrokke aan by Braaikraal gekuier het. “Hy was ‘n goeie en betroubare getuie en erken dat hy baie gedrink het,” het Bans gesê.
Hy het ook die ondersoekbeampte, ao, Daromé Burger en sers. Heine Jullies geloof wie se getuienis mekaar gestaaf het.
Maar volgens Bans blyk dit dat die kroegman se vriendin Moné Rowe, haar getuienis gefabriseer het omdat sy die betrokke aand, volgens haar eie getuienis, heelwat alkohol ingeneem het. So was sy die enigste wat getuig het dat die beskuldigde twee skinkborde met tequilas gekoop het, terwyl die kroegman, wat nugter was, nie so iets nie kan onthou nie.
Oor die betoning van berou deur die beskuldigde, het Bans gesê die feit dat hy nie met die familie van die oorledene kontak gemaak het nie, nie beteken dat hy nie berou toon nie.
“Die beskuldigde is deur die hof gewaarsku om nie tydens die verhoor oor die saak te praat nie en dit is wat hy gedoen het.”
Die saak dien voor landdros Vaughn Shone en Berry is op waarskuwing vrygelaat.
Lees vorige artikels:
- Berry-verhoor word weereens uitgestel
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’