OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het verlede Donderdag tydens hul algemene jaarvergadering 'n nuwe bestuur gekies. Die geleentheid is deur die KKNK by die Neelsie aangebied. Die besigheidskamer bestaan tans uit 140 lede.
Volgens Abri Ferreira, die huidige voorsitter, is 'n oop kommunikasiekanaal met die munisipaliteit van kardinale belang. Hy het beklemtoon dat toerisme, landbou en besighede onder een dak moet saamwerk om Oudtshoorn se ekonomie te versterk.
Ferreira het ook uitgelig dat inwoners self moet inspring om positiewe veranderinge te bring.
"In vandag se omstandighede moet mense hand in eie boesem steek en help waar hulle kan," het hy gesê.
Hy het die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI) as voorbeeld gebruik. Hierdie inisiatief is begin nadat finansiële druk die munisipaliteit se vermoë om sportinfrastruktuur te onderhou en uit te brei, beperk het.
Danksy samewerking met die privaat sektor is groter verantwoordelikheid vir die instandhouding van sportfasiliteite geneem, wat 'n positiewe impak op sport-byeenkomste en die dorp se ekonomie het.
Nog 'n projek wat tans aandag geniet, is die skoonmaak van die rivier, 'n inisiatief wat deur inwoners ondersteun en deels gefinansier word.
Finansiële oorsig
Volgens Jacobus Maloney, die besig-heidskamer se boekhouer, toon die besigheidskamer se finansiële verslag 'n inkomste van R316 000 met 'n surplus van R80 000. Die grootste uitgawes sluit in salarisse, huur en versekering, wat sowat R183 000 beloop.
Nuwe bestuur
Die nuwe bestuur van die besigheids-kamer is Zak Lipschitz, Harry Coetzee, Angelique Erasmus, Hans van der Veen, Heleen Badenhorst, Amelia Lubbe, Hennie Davel, Jacobus Maloney, Donna-Lida van der Berg, Suné Rupping, Abri Ferreira en Franklin Cupido (gekoöpteerde lid). 'n Nuwe voorsitter en ondervoorsitter sal later gekies word.
KKNK
Lizane Basson van die KKNK het gesels oor die komende KKNK en die positiewe ekonomiese impak met 100 musikante en 80 produksies wat beplan word. Die RSG-verhoog maak sy terugkeer, en kaartjieverkope verloop uitstekend.
Volgens haar blyk dit op hierdie stadium dat vanjaar se KKNK een van die grootste kunstefeeste kan wees. Tot dusver is R1,8 miljoen se verblyfbesprekings reeds gemaak.
Vorige berigte:
- Niel Els oorlede
- Sakelui word geteiken deur kuberdief
- Sakelui word aangemoedig om asblik-projek te ondersteun
- Oudtshoorn sakelui ryg toekennings in
- Besigheidskamer groei teen 'n tempo
- Abri Ferreira vereer
- Nuwe bestuur tydens AJV verkies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’