OUDTSHOORN NUUS - Abri Ferreira, mede-eienaar van Alert Patrol in Oudtshoorn en voorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer is verlede week aangewys as Opkomende Sakeleier van die Jaar.
Die spesiale toekenning van die Afrikaanse Handelsinstituut, Netwerk24, Die Burger en die Kaapstadse Sakekamer is Donderdag 12 September tydens 'n spoggeleentheid in Kaapstad aan hom oorhandig.
Altesaam agt inskrywings van regoor die Wes-Kaap is in die afdeling ontvang.
Michael du Plessis, die stigter en dryfkrag agter Grow Green Organics, in George is as een van die toptwee aangewys. Hy was al twee keer (in 2016 en 2023) die George-sakekamer se sakeleier van die jaar. In 2014 was hy die naaswenner.
Abri Ferreira
"Dit is vir my 'n reusevoorreg om hierdie toekenning te kon ontvang. Ek voel veral geëerd om teen iemand soos Michael te kon meeding. Hy het dit al gewen, en is goed in wat hy doen. Dit is ook die eerste keer wat die toekenning uit dit platteland uit kom. Ek moet almal wat my ondersteun uit my hart uit bedank."
Ferreira is ook lid van George en Mosselbaai se besigheidskamers en was ook voorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer toe hulle aangewys is as die naaswenner van die AHi (Afrikaanse Handelsinstituut) se 2023 Besigheidskamer van die Jaar-kompetisie, op 8 November 2023 in Durbanville, Kaapstad.
Volgens hom is die kriteria wat vir die toekenning in ag geneem is onder meer die groei en vooruitsigte van sy besigheid, sowel as sy gemeenskapsbetrokkenheid.
"Dit is lekker om te weet mense sien raak wat jy doen. Mens werk so hard om van jou besigheid 'n sukses te maak en so iets wys maar net dat dit regtig die moeite werd is."
Ferreira sê om genomineer te word was vir hom uit die staanspoor uit 'n groot eer.
"Net om by die geleentheid te kan wees en te kon netwerk met die ander gaste was 'n voorreg. Almal van ons se uitdagings is eintlik maar dieselfde, sommige is groot en ander klein, maar almal het dit."
Ferreira sê om jou besigheid te laat groei moet jy self die groeipotensiaal moontlik maak.
"Dit help nie jy wag dat iemand dit vir jou laat gebeur nie. Jy moet dit self laat gebeur. Gaan soek die geleenthede al is dit buite die dorp. Bring die besigheid in"
AHi
Dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi, het in 'n verklaring gesê vir die instansie gaan dit oor die ontwikkeling van klein sakeondernemings. "Die erkenning van Abri en Michael is tekenend van die AHi se rol deur sy sakekamernetwerk. Klein besighede is die hartklop van die ekonomie en lewer 'n groot bydrae tot werkskepping in Suid-Afrika wat in alle gevalle bevorder moet word."
Die AHi voeg daad by die woord en as deel daarvan sal verdere erkenning in verskeie afdelings vir mense en maatskappye se bydraes in die sakewereld gegee word tydens die instansie se kongres wat op 7 en 8 November in Oudtshoorn gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’