OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het Donderdagaand, 31 Oktober, hul laaste netwerkaand vir 2024 by die Black Swan Restaurant aangebied. Die aand is deur Pam Golding Properties geborg met 108 lede wat die geleentheid bygewoon het.
Nuwe lede verwelkom
Abri Ferreira, besigheidskamervoorsitter het vier nuwe besighede verwelkom. Lezanne Shone (Doterra Global Essential Oils), Adalene Rudolph (Enchanted Coffee), Charmaine Singwaan (Silverton Oudtshoorn) en Ramona van Rensburg (Dolphin Motors).
Wees positief
Jacques de Beer, prinsipaal van Pam Golding Properties, het lede toegespreek en bekendes en nuwe lede by die netwerkaand verwelkom.
"Ek wil graag 'n paar gedagtes met jul deel: Wes Fesler wat Amerika in drie verskillende sportsoorte verteenwoordig het, het gesê: "Success is found balanced between optimism and realism, where it is unhindered by the weight of pessimism."
John Wooden, bekende VSA Basketbal-afrigter wat tien uit 12 jaar die nasionale kampioenskap gewen het, het ons herinner dat, "Things turn out best for the people, who make the best, of the way things turn out."
Kate Morton, bekende Australiese skrywer het een keer gesê: "You make a life out of what you have, not out of what you are missing."
"Dit het my laat dink oor wat ons in Suid-Afrika en dan ook in Oudtshoorn het."
• Volgens die Switserse Tegnologie-maatskappy IQAir, en gesteun deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram, spog Oudtshoorn met die beste luggehalte in Afrika. Oudtshoorn is ook die volstruis-hoofstad van die wêreld.
• In Oudtshoorn is ons trots op plaaslike talente soos Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, sowel as krieketspeler, Otniel Baartman en gholfspeler, Erick van Rooyen, en natuurlik die wêreldberoemde saksofonis Jaco Kriek.
• Ons het kwaliteit skole, ons het goeie hospitale, populêre en goed bestuurde aftree-oorde, van die beste sportgeriewe, 'n goed bestuurde lughawe, weermag en polisie-opleidingsentrums, twee nuwe inkopie sentrums en 'n groot nuwe residensiële ontwikkeling. Ons vergeet soms hoe ons eie koöperasie, toerismebedryf en ander besighede ons relevant hou in die internasionale mark.
Ten slotte het hy meer uitgebrei oor Pam Golding Oudtshoorn, asook die eiendomsmark.
"Terwyl die nasionale neiging tans 'n afname in die goedkeuring van nuwe residensiële bouplanne toon, ervaar die Wes-Kaap 'n toename in groei. Die Wes-Kaap het naas Gauteng die meeste eiendomme in getal en in waarde. Wes-Kaapse eiendomme het ook die laaste 12 maande die beste groei in waarde gehad."
"Oudtshoorn het meer as 12 000 residensiële wooneenhede. Die helfte van die laaste 12 maande se kopers is onder die ouderdom van 50 jaar en die gemiddelde koopprys die laaste jaar was net oor die R1.1 miljoen en die totale eiendomregistrasies in Oktober 2024 beloop R71 miljoen."
De Beer is positief oor Oudtshoorn se toekoms.
"Die laaste paar maande se toename in die belangstelling in Oudtshoorn eiendom op al Pam Golding se bemarkingsplatvorms het geweldig gestyg en die toename in registrasies weerspieël die groeiende mark. Ons werk elke dag met mense wat graag in Oudtshoorn wil woon. Hulle sien die mooi in ons dorp. Ons het regtig baie om oor dankbaar te wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’