OUDTHSOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het gisteraand, 27 Februarie hul algemene jaarvergadering gehad waartydens die nuwe komiteelede bekendgemaak is.
Die nuwe bestuurslede is Hennie Davel, Donna-Lida van den Berg, Jolette van der Bergh, Jacobus Maloney, Abri Ferreira, Amelia Lubbe, Lourens Swanepoel, Suné Rupping en Heléne Badenhorst. Daar gaan eersdaags vergader word om 'n voorsitter en ondervoorsitter te kies.
Abri Ferreira, 2023 se voorsitter, het gesê dat verlede jaar 'n baie suksesvolle jaar vir die besigheidskamer was.
"Ons is tydens die Afrikaanse Handelsinstituut se AJV as die tweede beste sakekamer aanwys, Lottoland het 'n fantastiese program gedoen oor die grotte en gehelp om die ingang van die grotte te verfraai, ons het gehelp om tydhouers op die nuwe tartanbaan te herstel. Dit was maar net 'n paar van ons suksesse. Ons sou dit egter nie kon doen as ons nie saam met ander belangrike rolspelers soos die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, die polisie en die Oudtshoorn-munisipaliteit kon werk nie."
Ferreira het gesê dat hy opgewonde is oor wat 2024 vir die dorp en die besigheidskamer inhou en om te sien watter verskil hulle in 2024 kan maak.
Die aand is deur die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geborg. Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK, het die lede vertel wat die fees vanjaar beplan en waarna almal kan uitsien.
Agter, van links is Hennie Davel, Donna-Lida van den Berg, Jolette van der Bergh, Jacobus Maloney, Abri Ferreira, Amelia Lubbe, Lourens Swanepoel. Voor: Lizané Basson en JC Aucamp (bemarkingsbestuurder van die KKNK).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’