Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Groep vriende en familie van Marilize Nortier, wat in 2019 in 'n motorongeluk oorlede is, het Dinsdag, saam met Leon Campher van Community Against Crime, 'n optog voor die hof gehou om hul ontevredenheid oor die "ligte vonnis" van Sydney Berry te wys.
'n Memorandum is aan 'n amptenaar van die hof oorhandig met 'n petisielys wat deur ongeveer 700 mense onderteken is.
Berry was die bestuurder van die BMW waarin Nortier dood gevind is na 'n ongeluk op die grottepad.
FOTOGALERY: Optog teen Berry se ligte vonnis
Berry is tot korrektiewe toesig van drie jaar gevonnis, asook twee jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is. Die korrektiewe toesig behels 24 uur per dag in huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, gemeenskapswerk van 18 uur per maand vir die volle drie jaar en die bywoning van programme wat die departement korrektiewe dienste aanbied.
Volgens Marilize se ouma, Christene Nortier, is hulle as familie verpletter oor die gebeure van daardie aand.
"Vir vier jaar probeer ons as familie kop bo water hou en probeer ons om vrede te maak met wat gebeur het, maar elke keer word die rowe opnuut afgekrap. Ons het so gehoop dat die vonnis 'n mate van berusting gaan bring, maar hoe kan ons tevrede wees met 'n vonnis wat geen impak op hom gaan hê nie?"
Lindi Joubert, een van die inwoners wat nie met die vonnis tevrede was nie, het 'n brief van Nortier se tannie, Liana Gouws, wat nou in Kanada woon, voorgelees.
Gouws beskryf Marilize as 'n lewenslustige jong meisie wat lief was vir mense en altyd opgewek was.
"Sy het almal altyd gekomplimenteer en ondersteun. Sy kon aanhoudend lag vir die kleinste goedjies. Met haar liefde en passie vir mense wou sy graag 'n verpleegster word sodat sy mense kon help wat nie hulself kon help nie. Dis ironies om te dink dat sy nou nie eens haarself kan help nie."
Sy skryf verder dat Marilize se ma haar dood baie moeilik aanvaar en dat daar nie 'n dag verbygaan wat sy nie oor haar dogter praat nie.
"Dit het die lewe uit haar gesuig en haar negejarige seun so geraak dat hy na vier jaar steeds nie Marilize se dood kan verwerk nie. Hierdie is nie net nog 'n sterfte of ongeluk nie. Almal weet Sydney het gedrink. Hoe gaan ons net aan asof niks gebeur het nie. Hy het haar net daar gelos. Daar is nie eens een stukkie bewys dat hy eers probeer het om haar te red nie. Dit is die een ding wat almal stadig doodmaak. Die feit dat hy haar net daar gelos het en sy verdrink het omdat hy haar nie eers probeer help het nie."
Volgens haar is huisarres nie 'n gepaste vonnis nie, omdat hy basies met sy lewe kan aangaan en Nortier is nie dieselfde geleentheid gegun nie.
Campher het gesê dat die gemeenskap ook nie met die vonnis tevrede is nie.
"Daar is eenvoudig net te veel goed wat nie sin maak nie. As hy nie roekeloos bestuur het nie sou sy mos nog geleef het. Hoekom is hy aan daardie klag onskuldig bevind? Waarom is sy alkoholvlakke nie getoets nie? Hierdie was nie net 'n gewone ongeluk nie en die landdros het in die geval nie die regte vonnis gegee nie. Ons wil ook hê die familie moet weet indien hulle besluit om te appelleer, dat ons die familie sal bystaan."
VIDEO - Gemeenskap staan op teen ligte vonnis na dood van Marelize Nortier:
Lees vorige artikels:
- Petisie teen Berry se ligte vonnis
- Berry-verhoor word weereens uitgestel
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
Wyle Marilize Nortier
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’