OUDTSHOORN NUUS - Ronald Dale Harmse (50) van Gauteng, die man wat 'n sakeman van Oudtshoorn uit meer as 'n halfmiljoen rand bedrieg het deur hom as advokaat voor te doen, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof 23 jaar tronkstraf opgelê nadat hy op dié aanklag sowel as een van bedrog en geldwassery, skuldig bevind is.
Harmse, met 27 vorige veroordelings waaronder talle vir diefstal en bedrog, het skuld erken op die eerste twee aanklagte, maar onskuldig op die aanklag van geldwassery.
Hy is egter deur streeklanddros Sylvia Mandla op al drie aanklagte skuldig bevind. Hy het in Februarie 2020 vir Matthys Slabbert uit R535 000 bedrieg.
Slabbert het getuig dat hy die geld op Harmse se versoek vir veilige bewaring in 'n trustrekening inbetaal het wat die beskuldigde aan hom verskaf het.
Hy het ten spyte van Harmse se beloftes, nie 'n sent teruggekry nie.
Volgens Slabbert was hy ook nie bewus van eiendom wat Harmse glo in Gauteng vir R950 000 gekoop en 'n deposito van R475 000 daarop betaal het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum vonnis vir bedrog nie, gesien in die lig van die beskuldigde se ellelange lys van vorige veroordelings. Hy het vir baie lank onskuldig gepleit voordat hy van deuntjie verander het "omdat hy nie die hof en die klaer se tyd wil mors nie".
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir bedrog en moontlik die aanklagte vir vonnisdoeleindes saam te neem.
Volgens hom het Harmse skuldig gepleit en berou getoon oor wat hy gedoen het.
Hy het ook vir 15 jaar 'n skoon paadjie geloop en aanbeveel dat 'n vonnis van sewe jaar tronkstraf, 'n gepaste vonnis sal wees.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat witboordjie-bedrog in Suid-Afrika 'n groot bron van kommer is en nie geduld kan word nie.
Harmse is drie jaar tronkstraf opgelê omdat hy hom as advokaat voorgedoen het, 15 jaar vir bedrog en vyf jaar vir geldwassery.
Die hof het gelas dat die drie en vyf jaar vonnisse samelopend met die 15 jaar vir bedrog uitgedien kan word.
Vorige artikels:
- Sakeman bedrieg Oudtshoorn uit meer as 'n halfmiljoen
- Harmse tot 23 jaar tronkstraf gevonnis
- Harmse eers in 2022 verhoor
- Harmse sing nou ander deuntjie
- Beskuldigde ontsnap, weer agter tralies
- Harmse aangekeer
- Vermeende swendelaar ontsnap
- Harmse-saak uitgestel
- Vermeende bedrieër kry streekhofdatum
- Borgtog aan Harmse geweier
- 'Advokaat' spook steeds vir borg
- 'Advokaat' steeds in aanhouding
- Vermeende bedrieër wil nou borgtog hê
- Vermeende bedrieër in hof
- Man verloor R500 000
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'