OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die vermeende bedrieër van Gauteng, Ronald Dale Harmse, het gister in die Oudtshoorn-streekhof 'n nuwe kinkel in die kabel gekry toe hy die mandaat van sy regsverteenwoordiger beëindig het en die hof meegedeel het dat hy sy pleit van onskuldig na skuldig wil verander.
Die 50-jarige Harmse staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Die staat voer aan dat hy in Maart 2020 'n plaaslike sakeman, Matthys Slabbert, uit R535 000 bedrieg het deur voor te gee dat hy 'n advokaat is.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Riaan Pienaar, wat die hof op 7 September vanjaar versoek het om datums te bepaal waarop die saak voorkeur sal kry, was nie Maandag of Dinsdag by die hof nie. Toe hy Dinsdag deur Oudtshoorn Courant genader is, was hy glo glad nie daarvan bewus dat sy kliënt hom die trekpas gegee het nie.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, was sy pogings om met Pienaar in kontak te kom vrugteloos.
Harmse het die hof meegedeel dat hy nog verlede week met Pienaar in gesprek was, maar nou besluit het om sy mandaat te beëindig. Hy het die hof ook meegedeel dat hy voortaan sy eie saak sal hanteer, maar dit is deur die landdros geweier wat hom meegedeel het om liewer om regshulp aansoek te doen.
"Ek het besluit om skuldig te pleit op al die aanklagte teen my en sodoende nie die tyd van die hof en die klaer te mors nie, en het reeds 'n pleit van skuldig voorberei," het Harmse gesê. Hy wil ook sien dat die saak afgehandel word omdat hy al vir lank in aanhouding is.
Nadat Wenzel Botha van die Regshulpraad op rekord gekom het, het hy die hof om uitstel gevra om met Harmse te konsulteer en die saak so spoedig moontlik afgehandel kan word.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak daarna vir verhoor tot 13 en 14 Desember uitgestel.
Harmse het ook met sy heel eerste verskyning aan die einde van verlede jaar toe hy gehoop het om borgtog te kry, aan die hof gesê het dat hy nie die hof se tyd wil mors nie en van voorneme is om skuldig te pleit en sy eie saak sal behartig. Hy het in aanhouding gebly en met sy volgende verskyning in 2021 het hy egter 'n regsverteenwoordiger gehad en aangedui dat hy onskuldig gaan pleit.
l Harmse het onlangs uit die Mossel-baai-gevangenis ontsnap waar hy ook verhoorafwagtend was, maar is nog dieselfde dag in George vasgetrek. Hy sal voortaan in die Oudtshoorn-gevangenis aangehou word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'