Update
OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw (58) is Dinsdag in die streekhof op twee aanklagte van brandstigting, een van poging tot brandstigting asook dronkbestuur skuldig bevind en gevonnis.
Louw het in 'n pleitverduideliking skuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Sy het erken dat sy op 29 September 2018 die huis van Helen Oliphant in die Karoo Park-aftreeoord aan die brand gesteek het, op 12 Oktober 2018 probeer het om 'n huis van Morné Janse van Rensburg aan die brand te steek en op 1 November 2018 weer die huis van Oliphant aan die brand gesteek het. Sy het ook skuldig gepleit op die aanklag dat sy op 1 Oktober vanjaar 'n motor onder die invloed van alkohol bestuur het.
Haar regsverteenwoordiger, adv. Steven Lourens, het ter strafversagting die hof versoek om in ag te neem dat sy skuldig gepleit en berou toon oor wat sy gedoen het. Sy het haar volle samewerking aan die polisie gegee en nie die hof se tyd gemors nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het versoek dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir die ernstige misdrywe is. Sy het ook vier vorige veroordelings.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê die belang van die gemeenskap kom sterk na vore en dat 'n sterk boodskap uitgestuur moet word.
"Die beskuldigde is aan ernstige misdrywe skuldig bevind wat nie net hier, maar landwyd onrusbarend toeneem," het die landdros gesê.
"Daar was iemand in die huis wat sy aan die brand gesteek het en wie se lewe in gevaar was. Die klaer het ook groot skade gely en die howe moet toesien dat die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie."
Die landdros het die aanklagte van brandstigting en poging tot brandstigting vir vonnis saamgeneem en Louw ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat sy na die uitdiening van 'n sesde van die vonnis (tien maande) om parool aansoek kan doen.
Op die aanklagt van dronkbestuur is sy 'n boete van R10 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê.
Die landdros het 'n versoek van Louw se regsverteenwoordiger om nie haar rybewys in te trek nie, goedgekeur, maar sy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Lees vorige artikels:
- Sonja Louw se borgtog ingetrek
- Vrou in hof na sy borgvoorwaardes verbreek
- Brandstigtingverhoor sloer
- Beskuldigde verwys na psigiatriese hospitaal
- Beweerde brandstigter wil Valkenburg toe
- Vermeende brandstigter nader hof
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'