Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Sonja Louw, die vrou wat na bewering vier brande in Karoopark gestig het, het Dinsdag weer 'n interessante wending geneem na sy na bewering Maandag uitgevind het dat sy weereens nie oor 'n vaste adres beskik nie.
Sy het verlede Woensdag in die hof verskyn en haar regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het aan die hof gesê dat haar verblyf in Volmoed nie uitgewerk het nie en dat sy nou by 'n vriendin in St. Saviourstraat gaan woon.
Sy het egter Maandag gehoor dat sy ook nie meer daar kan woon nie en Metembo het Woensdag 'n dringende versoek aan die hof gebring dat daar weer 'n vaste adres vir Louw vasgestel word.
Sy het glo Maandagaand by 'n oornagplek buite Oudtshoorn, saam met haar suster, Marie Alberts, twee honde en 'n marmot, geslaap.
Leonie van Rooyen, wat vir die staat optree, het aan die hof gevra dat Louw se borgtog ingetrek moet word, omdat dit reeds haar derde adres is en omdat sy, Woensdag ten tyde van die hofsaak, nie oor 'n vaste adres beskik het nie.
"Ons het 'n netelige situasie, maar ons moet dit in konteks verstaan. My kliënt het haar benarde situasie steeds onder die hof se aandag gebring dat sy nie meer 'n blyplek het nie. Sy kon ook gevlug het, maar sy het nie," het Metembo geantwoord.
Die hof het vir middagete verdaag en na middagete het Louw nie weer vir haar hofsaak terug gekeer nie.
Volgens Metembo het sy na die oornagplek gegaan en kalmeerpille gedrink en was sy nie in staat om terug dorp toe te bestuur nie.
Landdros Roelf Konstabel het die saak tot 27 Februarie uitgestel sodat Louw weer die hofverrigtinge kan bywoon.
Die Oudtshoorn Courant het vasgestel dat die ooreenkoms wat sy met die inwoner van die huis in St. Saviourstraat gehad het slegs 'n tydelike ooreenkoms was en dat sy ook die persoon se gramskap op die hals gehaal het omdat sy daarop aangedring het om haar honde ook in die kamer te laat slaap.
Volgens die bestuurder van die oornagplek waar Louw en Alberts Maandagaand geslaap het, het die eienaar Dinsdag besluit om hulle nie verder te akkommodeer nie aangesien die honde in die kamer geslaap het.
Dit blyk dat 'n werknemer van die gastehuis Dinsdagmiddag die verblyf met Louw wou bespreek tot dit aan die lig gekom het dat sy 'n aantal pille gedrink het. Die gastehuisberstuurder het 'n ambulans ontbied en Louw is hospitaal toe geneem.
Nadat Louw hospitaal toe geneem is, het die ondersoekbeampte wat die saak hanteer, toegesien dat Alberts en die diere veilig in Karoopark besorg word waar Alberts 'n huis besit. Teen saktyd was dit onduidelik waarheen Louw sou gaan as sy uit die hospitaal ontslaan word.
Lees die vorige artikels hier:
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'