Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vrou wat daarvan aangekla word dat sy brande in Karoopark-aftreeoord gestig het, het die hof gevra om na die gevangenis teruggeplaas te word.
Sonja Louw, wat op borgtog vrygelaat is, moes die afgelope drie weke telkens van woonadres verander aangesien mense by wie sy gebly het, kapsie gemaak het omdat haar honde haar kamers deel.
Nadat borgtog in Januarie aan haar toegestaan is het sy as deel van die borgtogvoorwaardes op Volmoed gewoon. Haar bejaarde suster, aan wie die huis in Karoopark behoort, het besluit om saam met Louw in Volmoed te gaan bly. Die reëling vir blyplek op Volmoed het egter binne weke skipbreuk gely en Louw se regsverteenwoordiger moes toestemming by die hof kry dat sy na 'n adres in St Saviourstraat verhuis.
Dié blyplek het egter skaars 'n week gehou toe moes sy vort.
Toe daar voorverlede week weereens by die hof toestemming vir 'n alternatiewe adres verkry moes word, het Louw by 'n gastehuis buite die dorp 'n aantal pille gedrink en moes sy inderhaas in die hospitaal opgeneem word. Nadat sy ontslaan is het sy op Vrydag 22 Februarie sonder die teenwoordigheid van haar regsver-teenwoordiger in die hof verskyn en die landdros versoek om haar borgtog terug te trek en haar weer in die gevangenis te laat opneem.
"Ek het geen plek om te bly nie, en daarom vra ek die hof om terug te gaan gevangenis toe," het sy gesê.
Nadat sy haar bejaarde suster gegroet het, is sy na die gevangenis vergesel. Haar suster en die honde is teruggeneem na Karoopark.
Louw het gister gisteroggend weer in die hof verskyn. Haar regsverteen-woordiger, adv Benito Metembo het die hof meegedeel dat Louw moontlik 'n woonstel kan bekom waar sy vir die duur van die verhoor kan woon en dus die gevangenis kan verlaat indien sy die woonstel wel kry. Die saak is tot 29 Maart uitgestel.
Lees die vorige artikels hier:
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'