Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Sonja Louw, die vrou wat in November verlede jaar na bewering op heterdaad betrap is na sy inwoners se huise in Karoopark-aftreeoord aan die brand wou steek, het vanoggend 'n interessante wending in die Oudtshoorn-landdroshof geneem.
Vaughn Shone, Louw se regsverteenwoordiger het homself vanoggend van die saak onttrek en adv. Benito Metembo sal nou as Louw se regsverteenwoordiger optree.
Ongeveer agt inwoners van Karoopark het ook vanoggend se verrigtinge bygewoon.
Leonie van Rooyen, staatsaanklaer het aangedui dat sy Louw se borgvoorwaardes wil terugtrek omdat sy glo meer as twee keer al Karoopark besoek het.
"Die hof het in die borgtogvoorwaardes uitdruklik gesê dat die beskuldigde nie daar mag wees," het Van Rooyen gesê.
Metembo het ook aangedui dat hy 'n aansoek wil bring om Louw se borgtogvoorwaardes te wysig sodat Louw weer in Karoopark mag woon.
Die inwoners het uit die galery uit gesê dat hulle nie tevrede is met dié aansoek.
Die landdros het die saak na 13 Februarie uitgestel. Die landdros het gesê dat Louw se borgtogvoorwaardes verleng word en dat sy steeds nie Karoopark mag betree nie.
Louw is op 18 Januarie borgtog van 'n R1 000 vrygelaat na sy 'n vaste adres aan die hof kon verskaf. Sy het aanvanklik by haar suster, Marie Alberts, in Karoopark gewoon, maar die inwoners van die oord het 'n interdik teen Louw bekom omdat hulle nie wil hê sy moet in die oord woon nie.
Louw staan tereg op vier aanklagte, drie van brandstigting en een van poging tot brandstigting.
Lees die vorige artikels hier:
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'