Update
OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat daarvan aangekla word dat sy brande in Karoopark-aftreeoord gestig het, het Maandag weer in die Oudtshoorn-landdroshof voorgekom.
Louw is verlede jaar na bewering op heterdaad betrap na sy glo inwoners van die oord se huise aan die brand wou steek. Sy staan tereg op vier aanklagte, drie van brandstigting en een van poging tot brandstigting.
Sy het in Maart die hof gevra om terug te gaan gevangenis toe omdat sy sukkel om 'n vaste adres te bekom.
Sy is deur adv. Benito Metembo verteenwoordig, maar sy het Maandag aan die hof gevra of sy eerder van regshulp gebruik kan maak. Louw het ook 'n aansoek gebring om na Valkenburg vir sielkundige observasie gestuur te word. Volgens haar is sy ook 'n pasiënt van dr. Clifford van Wyk, 'n psigiater op Oudtshoorn.
Landdros Roelf Konstabel het die saak na 2 Mei uitgestel sodat die hof 'n besluit oor Louw se aansoek kan neem en sodat 'n verslag van dr. Van Wyk bekom kan word.
Lees die vorige artikels hier:
- Vermeende brandstigter nader hof
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'