Update
OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat van brandstigting aangekla word, het verlede week weer vlugtig in die landdroshof verskyn en die saak is tot Junie uitgestel om vas te stel wanneer 'n bed vir haar in die Valkenberg psigiatriese hospitaal beskikbaar is.
Louw (58), word daarvan aangekla dat sy by verskeie geleenthede brande in die Karoopark-aftreeoord gestig het en het self versoek om aangehou te word en vir spesiale psigiatriese behandeling na Valkenberg verwys te word. Sy staan tereg op drie aanklagte van brandstigting en ook een van poging om 'n brand te stig.
Haar nuwe regsverteenwoordiger, Cindy Smith van die Regshulpraad, het die hof meegedeel dat sy nie met Louw kon konsulteer nie, omdat sy glo nie kan onthou wat tydens die beweerde voorvalle gebeur het nie.
Die Oudtshoorn Courant het in November 2018, tydens Louw se borgtogaansoek, berig dat sy by twee geleenthede bekentenisse afgelê het waarin sy erken het dat sy die brande gestig het. Ao. Daromé Burger, 'n ondersoekbeampte, het toe getuig dat Louw tussen September en November 2018 die misdrywe gepleeg het.
"Die verdagte het by twee van die geleenthede bekentenisse afgelê waarin sy erken het dat sy die brande gestig het en by twee van die voorvalle was daar ooggetuies gewees. Die verdagte het ook gesê dat sy 'n wrok teen van die inwoners dra."
Louw het volgens Smith 'n brief geskryf wat sy nie aan haar wil oorhandig om in die hof voor te lees nie en die hof kan dit dus nie so aanvaar nie.
Landdros Roelf Konstabel het in die lig van die feite voor hom beslis dat Louw vir waarneming na Valkenberg verwys word en die saak vir bedtoewysing by dié hospitaal uitgestel tot 3 Junie.
Lees die vorige artikels hier:
- Beweerde brandstigter wil Valkenburg toe
- Vermeende brandstigter nader hof
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'