OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat na bewering vier huise in Karoopark-aftreeoord aan die brand probeer steek het, se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het Woensdagoggend 'n versoek aan die hof gebring dat daar weer 'n nuwe wooonadres vir Louw vasgestel word.
Louw is verlede jaar na bewering op heterdaad betrap na sy glo inwoners van die oord se huise aan die brand wou steek. Sy staan tereg op vier aanklagte, drie van brandstigting en een van poging tot brandstigting.
Louw is aanvanklik verlede jaar borgtog geweier omdat daar nie vir haar 'n vaste adres vasgestel kon word nie.
Sy kon ook nie weer in die oord, waar haar suster woon, gaan woon nie omdat die inwoners 'n interdik teen haar bekom het.
Sy is op 18 Januarie op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat daar bevestig is dat sy woonplek by 'n vriendin op Volmoed gekry het.
Metembo het egter Woensdag aan die hof gesê dat daar klagtes oor Louw se hond is en dat sy alternatiewe verblyf in St. Saviourstraat by 'n ander vriendin kan kry.
"Dit sal voordelig wees vir die saak omdat my kliënt dan in die dorp woon en ook nader aan die hof is," het hy gesê.
Die landdros het die aansoek toegestaan en het die saak tot 12 Maart uitgestel.
Hy het benadruk dat Louw se borgtogvoorwaardes steeds staan en dat sy onder meer nie by die oord mag kom of alkohol mag gebruik nie.
Lees die vorige artikels hier:
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'