Update
OUDTSHOORN NUUS - Sonja Louw, die vrou wat van brandstigting aangekla word, het Maandag weer in die streekhof verskyn, die keer omdat sy glo haar borgtogvoorwaardes verbreek en die staat aansoek doen dat haar borgtog ingetrek en sy aangehou moet word.
Louw (58), word daarvan aangekla dat sy na bewering by verskeie geleenthede brande in die Karoo Park Aftree-oord gestig of gepoog het om te stig.
Sy staan tereg op drie aanklagte van brandstigting en een van poging om ‘n brand te stig, en die saak is verlede week vir verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Kapt. Deon Bouwer, het Maandag getuig dat Louw ‘n gevaar vir die publiek inhou omdat sy glo ‘n drankprobleem het en haar motor onder die invloed van alkohol bestuur. Sy verander ook van blyplek sonder om die ondersoekbeampte daarvan in kennis te stel.
Sy is op 5 Oktober vanjaar deur die polisie op die Calitzdorp-pad van die pad af getrek, maar sy het weggejaag. Daarna het sy drie rooi verkeersligte verontagsaam. Toe sy naby die gholfbaan voorgekeer is, het sy ook nie stilgehou nie.
Nadat sy uiteindelik in hegtenis geneem en haar bloed getrek is, was haar bloedalkoholvlak 0.20 mg per 100 ml.
Louw het volgens Bouwer ook op 11 November 2019 by ‘n stop-en-ry punt op die Calitdorp-pad in padtekenborde vasgery toe sy volgens ‘n werknemer ook na drank geruik en haar motor se sleutels afgevat is.
Louw het haar borgvoorwaardes verder verbreek deur by twee geleenthede van blyplek te verander sonder om die ondersoekbeampte daarvan in kennis te stel.
Haar regsverteenwoordiger, adv. Stephen Lourens het dit aan Bouwer gestel dat sy nie elke keer na die hof wou kom vir ‘n aansoek om adresverandering nie, omdat dit haar saak glo sleg sou maak en belaglik laat lyk.
Oor die voorval op die Calitzdorp-pad voer Louw aan dat sy vir ‘n haas wat oor die pad gehardloop het, weggeswaai het.
Van haar borgvoorwaardes is dat sy haar weerhou van die gebruik van alkohol en nie van adres mag verander nie.
Die aansoek word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is tot vandag (28 November) vir verdere verhoor uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Brandstigtingverhoor sloer
- Beskuldigde verwys na psigiatriese hospitaal
- Beweerde brandstigter wil Valkenburg toe
- Vermeende brandstigter nader hof
- Nóg 'n interessante wending in brandstigtingsaak
- Nuwe adres vir beweerde brandstigter
- Vrou oortree glo borgtogvoorwaardes
- Beweerde brandstigter kry borgtog
- Geen borgtog vir beweerde brandstigter
- Beweerde brandstigter in hof
- Beweerde brandstigter vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'