OUDTSHOORN NUUS - 'n Koalisieregering is weer eens Oudtshoorn se voorland, aangesien geen politieke party daarin kon slaag om ’n volstrekte meerderheid in die munisipale verkiesing te behaal nie.
Hoewel die Demokratiese Alliansie (DA) ’n sterk vertoning gelewer het deur 10 van Oudtshoorn se 13 wyke te wen, is dit nie genoeg om die party op sy eie beheer oor die munisipale raad te gee nie.
Die ANC het die oorblywende drie wyke gewen, terwyl die res van die 25 raadsposte deur proporsionele verteenwoordiging gevul sal word.
Volgens die setelverdeling het die DA 10 setels, gevolg deur die ANC met vyf. Die Patriotic Alliance (PA) en Vryheidsfront Plus (VF+) het elk drie setels gekry.
Die oorblywende setels word deur Advieskantoor, ICOSA, Restore Azania Movement (RAM) en Bridgton Civic Association (BCA) beklee, met elk een setel.
Met 25 setels in die raad beteken dit dat 'n regerende koalisie ten minste 13 setels moet beklee.
Die DA, ondanks sy oorwinning in die meeste wyke, sal dus die steun van ander partye moet bekom om ’n meerderheid te vorm en die munisipaliteit te regeer.
Die verkiesingsuitslag plaas die kleiner partye soos in die verlede, weer in ’n belangrike magsposisie, aangesien hul steun moontlik die deurslag kan gee in die vorming van ’n nuwe regering.
Die groot vraag is nou watter partye bereid sal wees om saam te werk en dit vir die volgende vyf jaar kan volhou.
Op hierdie vroeë stadium is dit nog nie duidelik watter politieke partye met mekaar onderhandel oor 'n koalisieregering nie.
Vir inwoners is dit belangrik dat die nuwe raad politieke verskille opsy moet skuif en op dienslewering, infrastruktuur en die munisipaliteit se finansiële uitdagings moet fokus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’