KAROO NUUS - Die DA toon voorlopig sterk steun in Oudtshoorn en omliggende dorpe, terwyl die Patriotic Alliance (PA) in Prins Albert sy politieke spiere gewys het.
In Kannaland is die stryd tussen verskeie partye meer mededingend, terwyl Beaufort-Wes se stemme nog getel word.
Die voorlopige uitslae van gister, Woensdag 4 November, se munisipale verkiesing skets reeds ’n interessante politieke prentjie in die streek, hoewel die verwerking van stemme nog aan die gang is.
Oudtshoorn
In die groter Oudtshoorn het die DA voorlopig ’n sterk voorsprong opgebou. Teen vanoggend was 11 van die munisipaliteit se 39 stemlokale verwerk.
Voorlopige inligting dui daarop dat die DA reeds 10 van die 13 wyke gewen het. Die VF Plus het intussen ook sterk steun getoon.
Kannaland
Kannaland se uitslae toon ’n meer verdeelde politieke landskap, met verskeie partye wat om steun meeding.
Die DA, Icosa en PA is onder die partye wat voorlopig sterk vertoon. Die uiteindelike samestelling van die raad sal afhang van die oorblywende stemme en die verdeling van die proporsionele setels.
Prins Albert
Die PA het in Prins Albert ’n besonder sterk vertoning gelewer en al vyf die munisipaliteit se wyke gewen.
Die party het vyf van die raad se tien setels verseker, terwyl die DA vier setels en die ANC een setel gekry het.
Hoewel die PA die grootste party in die raad is, beskik hy nie oor ’n volstrekte meerderheid nie.
Die party sal dus die steun van minstens een ander raadslid nodig hê om ’n meerderheid te vorm.
Beaufort-Wes
Hier loop die DA voorlopig voor, maar die uitslae is nog nie volledig nie.
Teen die jongste beskikbare telling was agt van die munisipaliteit se 24 stemdistrikte verwerk. Op die PR-stembrief het die DA 32,4% van die stemme ontvang, gevolg deur die ANC met 14,3%. Die PA en PMC het albei 10,3% behaal.
Die uitslae toon dat Beaufort-Wes se politieke landskap steeds mededingend is, en verskeie kleiner partye het ook ’n aandeel in die stemme gekry.
Die vier munisipaliteite se uitslae beklemtoon die uiteenlopende politieke voorkeure van kiesers in die streek. Terwyl die DA voorlopig sterk in Oudtshoorn en Beaufort-Wes vertoon, het die PA se oorwinning in Prins Albert die potensiaal om die samestelling van dié raad aansienlik te beïnvloed.
Die finale uitslae sal eers duidelik wees wanneer alle stemdistrikte verwerk en deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’