OUDTSHOORN NUUS - 'n Fietsryer moes Saterdagoggend, 31 Oktober, noodgedwonge agter in 'n bakkie hospitaal toe geneem word nadat hy ernstige beserings opgedoen het toe hy geval het.
Errol Pretorius (70), bekende fietsryer van Oudtshoorn en die 2018 SA Tydtoets-fietsrykampioen, het Saterdagoggend omstreeks 06:00 geval toe twee honde op die Safari-pad voor sy fiets ingehardloop het.
Hy het op daardie stadium ongeveer 35 km/h gery.
'n Gas wat by Errol en sy vrou, Venita, se gastehuis tuisgegaan het, het saam met hom gery. Volgens Venita het Errol haar kort voor 06:00 gebel en gevra dat sy 'n ambulans moet ontbied, aangesien hy geval het en nie kon opstaan nie.
Volgens Venita het sy eers die Mediclinic Klein-Karoo gebel, wat vir haar die nommers van twee privaat ambulansdienste gegee het. Sy het deur-gekom, 'n ambulans ontbied en dadelik na die ongelukstoneel gery.
"Toe ek by Errol kom was daar 'n klomp mense by hom, en van hulle het ook oproepe gemaak om 'n ambulans te ontbied. Errol het in die pad gelê en kon nie beweeg nie. Ons wou hom ook nie beweeg voordat die paramedici by hom was nie, maar na omtrent 'n uur was daar nog geen ambulans nie."
Sy sê sy kon nie glo hoeveel mense het stilgehou om te help nie. "Fietsryers, drawwers en motoriste het stilgehou om hulp aan te bied," het sy Maandag gesê.
Na meer as 'n uur het twee vriende van die Pretoriusse wat in 'n bakkie stilgehou het, gesê hulle gaan 'n plan maak, aangesien dit nie lyk of 'n ambulans gaan opdaag nie.
Hulle het gery en teruggekeer met 'n houtdeur agter op die bakkie. Errol is versigtig op die deur getel, agter in die bakkie gelaai en hospitaal toe geneem.
Hy het vier frakture aan een van sy bene opgedoen en drie ribbes met die valslag gebreek. Hy het 'n operasie ondergaan om penne en plate aan die frakture aan te bring. Venita sê sy het hom Maandag huis toe geneem waar hy tans daaglikse fisio-behandelng ontvang.
Navraag deur Oudtshoorn Courant het vasgestel dat een van die ambulansdienste wat geskakel is, lankal nie meer in Oudtshoorn teenwoordig is nie.
Die ander een het skynbaar net een ambulans, wat ten tyde van Errol se ongeluk elders benodig was. Sover vasgestel kon word was daar nie oproepe na die Oudtshoorn-beheerkamer gemaak nie, en dit is nie duidelik of iemand die Metro-nooddienste se beheerkamer geskakel het nie.
Die Pretoriuse is uiters dankbaar aan al die mense wat hulp verleen het en gesorg het dat Errol by die hospitaal kon kom.
Lesers kan die volgende noodnommers wat 24 uur per dag geskakel kan word, aanteken: Metro-ambulansdienste: 044 805 5070. Munisipale beheerkamer op Oudtshoorn vir noodgevalle: 044 203 7800 of 044 203 7801.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’