OUDTSHOORN NUUS - "Daar is nie genoeg woorde om die ongelooflike mens wat Aidan was te beskryf nie."
Só onthou Nadia Westraad haar agtjarige seuntjie wat Sondag 1 November onverwags aan breinvliesontsteking (meningokokkale meningitis) oorlede is nadat sy toestand binne 'n kort tydjie dramaties versleg het.
Aidan was 'n gr. 2-leerder aan Laerskool Laurus. Sy ma onthou hom as 'n liefdevolle seuntjie met 'n besonderse empatie, wat alles wat hy aangepak het met sy hele hart gedoen het.
"Hy het die mooiste omgee-hart gehad en almal met soveel respek behandel. Hy het alles met oorgawe aangepak. As hy iets gedoen het, het ek geweet hy sit 100% daarin. As hy op die sokkerveld stap, het ek geweet sy hele hart is in daardie wedstryd.
"Dit is ook die tipe ouboet wat hy was. Hy en sy sussie, Ava, was onafskeidbaar."
Wat die verlies vir die gesin des te moeiliker maak is hoe normaal Aidan se laaste dae aanvanklik verloop het.
Volgens Nadia het hy Vrydag nog vrolik saam met sy maatjies gespeel en heeltemal normaal voorgekom.
"Hy het 'n loopneus gehad, maar ons het dit aan sinus toegeskryf omdat die jakarandas voor die huis blom. Saterdag was ons buite die dorp om saam met die kinders te gaan swem. Ons het ook sy hare laat sny. Toe ons daar uitloop, het hy effens uit balans gelyk en gesê hy voel regtig nie lekker nie. Ek het vir hom koorsmedikasie gegee."
Ava en haar boetie Aidan was onafskeidbaar. Foto: Verskaf
In die vroeë oggendure van Sondag het die situasie egter skielik verander.
"Omstreeks 03:00 het ons met hom na die ongevalle-afdeling gegaan nadat hy na my toe gekom en gesê het hy voel nie lekker nie. Daar was toe reeds 'n uitslag oor sy hele lyf. Hy is van Oudtshoorn-hospitaal na George-hospitaal oorgeplaas. Daar het sy toestand versleg, ondanks alles wat die dokters probeer doen het."
Nadia sê sy wil veral hê dat ander ouers bewus moet wees van hoe vinnig die siekte kan ontwikkel.
"Hy kom regtig soos 'n dief in die nag en gee jou nie tyd nie. Dit versprei só vinnig deur jou liggaam."
Sy troosdiens vind Saterdag 7 November om 10:30 vir 11:00 by die Helende Woord Bediening, Jonesstraat 3, plaas.
'n Gemeenskap treur saam
Laerskool Laurus het Maandag sy diepe hartseer oor Aidan se afsterwe uitgespreek en sy familie, in hierdie moeilike tyd ondersteun.
"Dit is moeilik om die regte woorde te vind wanneer 'n jong lewe so onverwags en vroeg van ons weggeneem word. Aidan was 'n sprankelende seuntjie met die mooiste persoonlikheid. Hy was deel van ons Laurus-familie, en sy plekkie in ons skoolgemeenskap sal altyd onthou word."
Volgens S.W. Vorster, skoolhoof van Laurus, het die skool se bestuur onmiddellik opgetree nadat hulle die nuus ontvang het.
"Juf. Marelize Janse van Vuuren, die voorskoolsentrum se hoof, en haar man, Gerrit, die adjunkhoof van die skool, was saam met die familie by George-hospitaal, en al die nodige departemente is in kennis gestel. Ons het ook antibiotika ontvang wat aan die leerders, ouers en onderwysers gegee is wat met hom in aanraking was."
Vorster doen 'n beroep op die ouers wie se kinders nog nie teen meningokokkale meningitis ingeënt is nie, om hul huisdokter oor beskikbare entstowwe en toepaslike voorkomende maatreëls te raadpleeg.
"Dit is belangrik dat ons elke moontlike voorsorgmaatreël oorweeg en verantwoordelik optree."
Wees bedag op die waarskuwingstekens
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is geen ander gevalle van breinvliesontsteking in Oudtshoorn aangemeld nie. Sy sê die algemene waarskuwingstekens waarop mense bedag moet wees, is skielike griepagtige simptome, soos skielike aanvang van koors, erge hoofpyn, naarheid en braking, styfheid in die nek, sensitiwiteit vir lig en 'n uitslag met klein, donkerrooi verkleurings op die liggaam.
Soos met enige aanmeldbare siekte word mense wat noue kontak met Aidan gehad het opgespoor en toepaslike behandeling word aan hulle gebied.
"Meningitis is 'n ernstige siekte wat lewensgevaarlik kan wees. Ouers word versoek om onmiddellik mediese hulp by hul naaste kliniek, dokter of hospitaal te kry indien hulle of hul kinders enige van hierdie simptome ontwikkel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’