OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Samantha Meyer (40), bestuurder van die voertuig wat op
8 November 2024 in 'n noodlottige botsing betrokke was, is Maandag 8 September in die Oudtshoorn-streekhof tot 7 Oktober uitgestel.
Die botsing het op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat plaasgevind en gelei tot die dood van die 24-jarige PJ 'Pokkels' Sauls, 'n jong onderwyser van Laerskool PJ Badenhorst in Dysselsdorp.
Staatsaanklaer Mervan Saaiman het die hof meegedeel dat pleit- en vonnisonderhandelinge tussen die verdediging en die senior staatsaanklaer nog nie afgehandel is nie, en daarom 'n uitstel versoek.
Meyer se regsverteenwoordiger, advokaat Bulelani Bans, het tydens haar vorige verskyning aangedui dat hy die senior staatsaanklaer se besluit om die klag van strafbare manslag terug te plaas op die hofrol, na die hooggeregshof vir hersiening wil neem. Hy het egter Maandag bevestig dat die beskuldigde tans probeer om 'n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat te bereik.
Meyer staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose en/of nalatige bestuur.
Die aanklag van strafbare manslag is op 10 Junie aanvanklik in die distrikshof deur die staat teruggetrek, maar later weer op die klagstaat geplaas.
Meyer is voorlopig op waarskuwing vrygelaat.
Familie van Sauls het Maandag na die hofverrigtinge gesê dat hulle nie met die idee van 'n pleitooreenkoms saamstem nie.
"My ma se gesondheid het geweldig verswak na PJ se ongeluk en sy huil nog elke dag. Sy vierjarige dogtertjie is sonder 'n pa en daar is op die oomblik geen finansiële ondersteuning vir haar nie. Ons familie is stukkend na sy dood. Geregtigheid moet geskied."
Vorige berigte:
- Meyer gaan wel van strafbare mansslag aangekla word
- Sauls-familie woendend oor onregverdige hofbesluit
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’