Update
OUDTSHOORN NUUS - Minstens drie sportbyeenkomste kon reeds nie in Oudtshoorn aangebied word nie omdat die opgraderings by die De Jager-sportkompleks steeds nie afgehandel is nie.
Dit wek kommer oor die dorp se vermoë om sportgeleenthede te behou wat besoekers en inkomste na die Klein-Karoo bring.
Onder die byeenkomste wat geraak is, is die Kwagga Top-10, die meestersatletiek en die departement van kultuursake se departementele sport- en rekreasiedag.
Dave van der Walt, 'n bekende figuur in atletiek- en tweekampkringe en lid van die Oudtshoorn-sportinisiatief, sê hy moes ook inderhaas alternatiewe reëlings tref vir vanjaar se hardloopbeen van die tweekamp.
Hoewel hy tevrede is met die swembadgeriewe, waar nuwe pompe geïnstalleer is, het die onvoltooide atletiekbaan hom genoop om skole te nader sodat die hardloopgedeelte daar kon plaasvind.
Van der Walt meen dit is kommerwekkend dat Oudtshoorn reeds sportgeleenthede verloor het. "As 'n dorp eers 'n sportgeleentheid verloor, kry jy dit nie sommer weer terug nie. Dit kos 'n dorp miljoene rande se verlies. Die byeenkomste bring besoekers wat oorbly en van ons verblyf, winkels, ensomeer gebruik maak."
Oudtshoorn Courant het in Julie berig dat die opgraderings by die De Jager-sportkompleks reeds die maand tevore begin het. Die munisipaliteit het destyds aangekondig dat R9,27 mil-joen aan die opgradering van die tartanbaan bestee sou word.
Die voorlopige voltooiingsdatum was
6 Oktober, hoewel die munisipaliteit aangedui het dat weerstoestande die werk kon beïnvloed. Die tartanoppervlak kan slegs onder bepaalde temperatuurstoestande aangebring word.
Die jongste fase van die werk sluit die voltooiing van die baanoppervlak in wat nie tydens die eerste fase in 2023 afgehandel is nie. Die opgradering van die waterspringput en die bou van 'n paalspringfasiliteit vorm ook deel van dié fase.
Die baan is tans vir die publiek gesluit terwyl die werk voortgaan.
Oudtshoorn Courant het die Oudtshoorn-munisipaliteit om kommentaar genader oor die vertraging, die huidige stand van die projek en wanneer die baan na verwagting weer beskikbaar sal wees. Geen terugvoer is teen die ter perse gaan ontvang nie.
Lees ook:
R9,27 miljoen vir baanopgradering
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’