Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse sake-aflospretbyeenkoms het vanjaar 'n rekordgetal van 278 atlete in 70 spanne gelok.
Die Cango Wildlife Klein-Karoo Sake-aflos het om 18:00 op Donderdag 22 Oktober in Baron van Reedestraat weggespring.
Die wegspringplek en eindstreep was soos gewoonlik voor die Santa Fe Spur, vanwaar die atlete die 2 km-roete tot by die Oudtshoorn Inn by die Van der Rietstraat-kruising en terug gedraf of gestap het.
Die sake-aflos word deur die Klein-Karoo Atletiekfonds (KKAF) aangebied. Volgens Hans van der Veen, bestuurslid van die KKAF, was vanjaar se hoogtepunt die aantal moeders wat met stootwaentjies deelgeneem het. "As gevolg hiervan oorweeg die organiseerders dit om 'n gesinskategorie vir die 2027-geleentheid by te voeg," sê hy.
Dat dié aand jaarliks vir hope pret sorg was duidelik as jy die talle spanne wat in kostuums deelgeneem het, in ag neem.
Die span van James King & Badenhorst het in hul werksklere, hofdrag, deelgeneem en die prys vir beste kostuums gewen.
Volgens Van der Veen is daar vanjaar ook vir die eerste keer wedrennommers aan elke deelnemer voorsien, wat dit moontlik gemaak het om gedurende die wedloop elke span se posisie relatief tot die ander te monitor.
Talle toeskouers het opgedaag om die atlete te ondersteun, en selfs buitelandse gaste het verkies om hul aandete op die balkon van die Queen's Hotel te nuttig om die pretbyeenkoms te besigtig.
Die vermaaklikheids-persoonlikheid Left Sleeve was met die duur van die wedloop op sy pos om die toeskouers te vermaak en kommentaar oor die atlete se vordering te lewer.
Die organiseerders spreek hul opregte dank uit aan elke borg en vrywilliger wat bygedra het om van vanjaar se Cango Wildlife Klein Karoo Sake-aflos 'n resusesukses te maak.
Die volgende uitslae van die onderskeie afdelings is deur Jakhals Events bygehou en beskikbaar gemaak:
Mansspanne
• Pitstop (34:36)
• JJ's Striders (44:21)
• Oudtshoorn Rugby Driedes (52:02)
Gemengde spanne
• Wesbank (44:35)
• Vlamvoete (46:19)
• Groen Mamba (52:20)
Besigheidspanne
• Black Mountain Resiesperde (44:55)
• Cango Wildlife 7 (55:17)
• Oudtshoorn Brew Crew (1:04:31)
Hoërskoolseuns
• Valkies 1 (45:55)
• Valkies 2 (45:58)
• Struisies (49:33)
Hoërskoolmeisies
• Avatar (42:42)
Laerskoolmeisies
• Wesbank 2 (48:35)
• Van Reede Netbal (1:03:17)
Stappers
• Karoo Girls (51:53)
• Plaspac (53:47)
• Health Centre South Coast (54:58)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’