OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit is tans besig om nog R9,27 miljoen aan opgraderings van die tartanbaan by die De Jager-sportkompleks te bestee, maar dit sluit steeds nie alle opgraderings in nie.
Die baan is tans vir die publiek gesluit nadat die jongste fase van opgraderings begin het. Volgens die munisipaliteit behels dié fase die voltooiing van die baanoppervlak wat nie tydens die eerste fase in 2023 afgehandel is nie, asook die opgradering van die waterspringput en die bou van 'n paalspringfasiliteit.
Die munisipaliteit het in 2023 tussen R9 miljoen en R10 miljoen aan die eerste fase van die projek bestee. Destyds is ongeveer 3 500m² van die tartanoppervlak vervang, met prioriteit wat aan die twee binnebane, die 100 m-reguit en die eerste draai gegee is.
Nog R2 miljoen is destyds bestee aan sementfondamente vir spreiligte, maar die ligte is nog nie opgerig nie.
Volgens Candice Biscombe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is Ruwacon (Edms) Bpk. as kontrakteur vir die huidige fase aangestel. Die projek het kontraktueel op 5 Junie begin, hoewel die kontrakteur eers op 25 Junie op die terrein begin werk het.
Die voorlopige voltooiingsdatum is 6 Oktober, hoewel dit deur weerstoestande beïnvloed kan word omdat die tartanoppervlak slegs onder bepaalde temperatuurtoestande aangebring kan word.
Verskeie atlete en gebruikers van die baan het egter hul kommer uitgespreek dat die aanlope vir die verspring- en hoogspringfasiliteite nie deel van die huidige opgraderings is nie.
![]() Die toestand van een van die twee aanlope na die verspringput. | ![]() Daar is tans nie begroot om die aanloop van die verspring te herstel nie. Foto's: Liezl van Niekerk |
Die munisipaliteit het bevestig dat daar tans geen goedgekeurde planne vir verdere verbeterings aan die sportkompleks is nie.
"Bykomende velditems of infrastruktuur sal slegs oorweeg word indien die finale koste en beskikbare begroting dit toelaat," het Biscombe gesê.
Volgens Dave van der Walt, 'n bekende figuur in atletiek- en tweekampkringe en lid van die Oudtshoorn-sportinisiatief, beteken dit dat die baan steeds nie aan al die vereistes vir sertifisering sal voldoen nie.
"Die baan moet aan sekere vereistes voldoen om gesertifiseer te word. Alle atletiekbane moet elke 12 jaar nuwe gradering kry. Ons atlete kan geen SA rekord amptelik laat aanteken nie omdat ons onder meer nie elektroniese tydhou het nie. Dieselfde geld vir verspring omdat ons nie 'n windmeter het nie," het hy gesê.
Hy sê die gebrek aan opgraderings aan die verspring- en hoogspringaanlope is veral teleurstellend nadat die atletiekgemeenskap dit reeds vir jare onder die munisipaliteit se aandag bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

