Update
OUDTSHOORN NUUS - Lede van die publiek was verlede Vrydag verheug toe Magdaleen Titus en Natasha Stuurman deur die polisie in hegtenis geneem is.
Titus is die vrou van die vermoorde Preston Titus en 'n ANC-raadslid op Oudtshoorn. Daar word beweer dat sy die baasbrein agter die huurmoord op haar man is.
Stuurman, Titus se vriendin, is verlede Vrydag in Oudtshoorn in hegtenis geneem. Sy is 'n werknemer van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Daar word beweer dat haar huis in Oudtshoorn gebruik is om die moorde te beplan en dat haar voertuig gebruik is om die huurmoordenaars in Oudtshoorn te vervoer.
Terwyl die borgtogaansoek van Justice Mooi, een van die beweerde huurmoordenaars, in die Oudtshoorn-landdroshof voortgegaan het, het ao. Martin le Roux, die ondersoekbeampte, in die hof gesê twee lasbriewe is op grond van Sixabiso Klip se pleitverduideliking uitgereik om dié twee vroue te arresteer.
Titus het egter op die vlug geslaan en is Vrydagmiddag in Barrydale in hegtenis geneem.
Volgens wat verneem word was sy na Worcester onderweg en was haar kinders en haar suster saam met haar in die voertuig.
Belangstellendes en familie van Preston Titus het Maandag 'n petisie geteken sodat borgtog aan die beskuldigdes nie toegestaan word nie.
Haar suster het die kinders na Worcester geneem nadat Titus gearresteer is.
Titus het om ongeveer 19:30 in Oudtshoorn arriveer waar sy deur ongeveer 200 belangstellendes voor die polisiestasie ingewag is.
Die gemeenskap het gejuig toe die polisie haar na die selle neem.
'n Groot groep belangstellendes het Vrydag voor die polisiestasie gewag dat Magdaleen Titus deur die polisie ingebring word. Foto's: Liezl van Niekerk
Titus en Stuurman het Maandag hul eerste verskyning in die hof gehad.
Vaughn Shone het in opdrag van adv. Benito Metembo vir Titus opgetree terwyl Stuurman aangedui het dat sy nog haar eie regsverteenwoordiging moet aanstel.
Hulle het op aanklag van moord met voorbedagte rade verskyn.
Stuurman en Titus se verskyning verloop saam met dié van Mooi.
Die saak is tot 29 Januarie vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel.
Familie van Preston Titus het Maandag tydens Magdaleen Titus se eerste verskyning 'n onderhoud met die SAUK gevoer.
Geen politieke implikasies tans
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die week gesê dat Titus se arrestasie nie haar status as ANC-raadslid van die munisipaliteit verander nie.
"Ons kan bevestig dat Magdaleen Titus steeds 'n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit is. Interne prosesse deur die munisipaliteit sal volg sodra die polisie hul ondersoek teen die raadslid gefinaliseer het," het hy gesê.
Hy het verder bygevoeg dat Stuurman 'n tydelike werker van die munisipaliteit is.
"Sy was die opsigter van die Bridgton-oord en sal 'n amptenaar van die munisipaliteit bly tot die kriminele ondersoek teen haar afgehandel is of tot wanneer haar kontrak by die munisipaliteit verstryk."
Van die ANC se kant af het die provinsiale sekretaris Faiez Jacobs op gerugte reageer dat Titus in die tronk deur ANC-lede besoek is om haar te vra om te bedank.
Hy het gisteroggend die volgende gesê: "The ANC is not involved in any form or shape and we are not influencing the judicial procedure that must take place. All ANC members must respect and observe the legal process.
"People's opinions are their own and can't bemisconstrued as the views of the ANC."
Hy het verder gesê dat die provinislae uitvoerende komitee die verloop van die hofverrigtinge sal volg en volgens die uitkoms daarvan sal optree.
Ao. Wilfred Apollis (links) en ao. Martin le Roux saam met Magdaleen Titus na sy in hegtenis geneem is. Foto: Liezl van Niekerk
Lees verwante artikels:
Lees vorige artikels:
- Magdaleen Titus arriveer op Oudtshoorn
- Weermagmoord: Magdaleen Ttius aangekeer
- Verdagte in weermagmoord gevonnis
- Weermagmoord-opvolg
- Borgtog aansoek weer uitgestel
- 2 moordverdagtes in hof
- 2de moordverdagte in hof
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Nog een in hegtenis
- Weermagmoord: Optog buite hof
- Verdagte in weermagmoord in hof
- Vermoorde soldaat gehuldig
- 2 in Hegtenis vir moord
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
- Eggenoot van raadslid sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'