Update
OUDTSHOORN NUUS - Daar was twee pogings op stafsersant Preston Titus se lewe voor die finale moord op die aand van 1 Desember verlede jaar gepleeg is.
Dit is inligting wat uit Sixabiso Klip se pleitverduideliking bekend geword het na hy verlede week besluit het om sy borgtogaansoek te laat vaar en skuldig te pleit op aanklag van moord sowel as die besit van 'n gevaarlike wapen.
Vonnis
Hy is deur landdros Retha Pretorius tot 15 jaar gevangenisstraf in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis.
Op die klag van moord is hy tot 15 jaar tronkstraf gevonnis en op die klag van die besit van 'n gevaarlike wapen het hy twee jaar gevangenisstraf gekry.
Sy het gesê die vonnisse sal samelopend uitgedien word wat beteken dat hy effektief 15 jaar tronkstraf opgelê is.
Die pleitooreenkoms
Die pleitooreenkoms is tussen Klip en die staat aangegaan en daar is ook in die hof genoem dat hy nou 'n staatsgetuie is.
Adv. Benito Metembo, Klip se aanvanklike regsverteenwoordiger, het onttrek en adv. Stephan Lourens het Klip pro-bono verteenwoordig.
Adv. John Ryneveld, wat deur die nasionale vervolgingsgesag aangestel is om vir die staat op te tree, het Klip se pleitverduideliking in die hof voorgelees.
Volgens dié verduideliking het Klip en Titus mekaar deur 'n vriend van Klip met wie Titus glo in verhouding was, leer ken.
Hulle het vriende geraak en sy het hom as haar persoonlike drywer aangestel.
Klip het verduidelik dat hy in November verlede jaar saam met Titus en Masimthembe January (MJ) na Port Elizabeth gereis het waar hulle vir Justice Mooi ontmoet het.
Titus het 'n gesprek met Mooi gehad en later glo vir Klip gesê sy het met Mooi gepraat oor 'n plan om haar man, Preston, te vermoor.
Hy sê verder dat hy op 29 November vir Titus na Natasha Stuurman, 'n goeie vriendin van Titus, se huis geneem het.
Hier het Titus 'n telefoongesprek gehad waarna sy en Klip vir was Justice Mooi en 'n man wat slegs as Vusumsi bekend is, by die begraafplaas opgelaai.
Volgens Klip se pleitverduideliking het hulle die twee mans gaan wys waar Titus se huis is en Titus wou weet waar die vuurwapens is waarvoor sy geld gestuur het.
Vusumsi het gesê hulle het besluit om eerder messe en remvloeistof te gebruik, want kon nie vuurwapens nie.
Hy het gesê hulle benodig ooknog 'n hamer waarna Klip het 'n hamer by 'n vriend gaan leen het.
Klip, Titus, Vusumsi en Mooi is glo terug na Stuurman se huis.
Uit die verduideliking blyk dit Titus vir Mooi en Vusumsi R30 000 elk vir die moord sou betaal.
Klip het voor die moord aan Titus gesê dat hy nie meer met die moord wou voort gaan nie, maar sy het hom, volgens sy pleitverduideliking, gesmeek en gesê hy moet haar help, want hy is die enigste persoon wat sy vertrou.
Sy het hom belowe dat hy 'n Kersfeesbonus sal kry as hy die beskuldigdes rondry.
Preston met derde poging doodgemaak
Die eerste poging op Preston se lewe was die aand van 30 November.
Klip het Mooi en Vusumsi na Titus se woning geneem na sy laat weet het sy en die kinders is nie meer in die huis nie en dat hulle met die planne kon voortgaan.
Die beskuldigdes het egter besluit om die plan te laat vaar omdat twee van Preston se vriende in die huis was.
Die volgende poging was die volgende oggend, 1 Desember.
Titus en die kinders het glo weer die huis verlaat waarna die beskuldigdes Preston in sy woning ontmoet het.
Hulle het gesê dat hulle apostels van Port Elizabeth is en die drie van hulle het gesels.
Hulle moes weereens hulle moordplan uitstel, want hulle het besef Preston se bure kan hulle sien.
Preston is uiteindelik daardie nag vermoor.
Volgens Klip het hy pepersproei en slaappille vir Titus gaan koop.
Die beskuldigdes het Preston gedood deur hom, volgens getuienis in die hof, minstens 27 keer met 'n mes te steek en herhaaldelik met 'n hamer te kap.
Titus het ook na bewering tablette, juwele en selfone aan die beskuldigdes gegee sodat dit na 'n inbraak moes lyk.
Volgens Klip het hy in die motor gewag terwyl Vusumsi en Mooi die moord gepleeg het.
Klip het die twee mans na die moord na Mosselbaai geneem en Vusumsi het onderweg iets langs die pad weggegooi.
Die polisie het in Desember verlede jaar wapens wat vermoedelik in die moord gebruik is sowel as kledingstukke langs die Kandelaarsrivier opgetel.
Die mans is daarna George toe waar Klip die twee ander mans by die Gateway Lodge afgelaai het.
Klip is terug na Oudtshoorn.
Titus het op Sondag 3 Desember vir Klip gebel en gevra dat hy met die ander mans moet reël om van die selfone ontslae te raak omdat die polisie dit gaan naspoor.
Volgens sy pleitverduideliking het hy ook die Sondag gehelp om Titus se huis en voertuig skoon te maak en om van die bewysstukke wat agtergelaat is ontslae te raak. Klip is uiteindelik Woensdag 6 Desember in hegtenis geneem.
Die Oudtshoorn Courant het op 24 Januarie nuwe inligting rakende die saak bekom. Dit kon nie bekend gemaak word nie omdat dit die polisieondersoek kan belemmer.
Lees verwante artikels:
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Verdagtes bly in aanhouding
- Weermagmoord: Verdagtes in hof
- Magdaleen Titus arriveer op Oudtshoorn
- Weermagmoord: Magdaleen Ttius aangekeer
- Verdagte in weermagmoord gevonnis
- Weermagmoord-opvolg
- Borgtog aansoek weer uitgestel
- 2 moordverdagtes in hof
- 2de moordverdagte in hof
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Nog een in hegtenis
- Weermagmoord: Optog buite hof
- Verdagte in weermagmoord in hof
- Vermoorde soldaat gehuldig
- 2 in Hegtenis vir moord
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
- Eggenoot van raadslid sterf
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'