Update
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige werknemer van Badenhorst Slaghuis, Fritz Jacobs, en sy vriendin Tammy Weyers, wat saam met hom met honderde duisende rande die pad gevat het, het Woensdag weer vlugtig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Die saak is vir 'n streekhofbeslissing uitgestel.
Die twee word aangekla van diefstal en die gebruik van 'n voertuig sonder die toestemming van die eienaar.
Jacobs het Woensdag lank met sy regsverteenwoordiger, Jacques Malan, van die Regshulpraad, gepraat nadat hy die hofsaal binne gebring is, blykbaar om weer om borgtog aansoek te doen. Borgtog is verlede maand aan hom geweier na 'n versoek van sy moeder omdat hy 'n dwelmverslaafde is. Borgtog van R2 000 is aan Weyers toegestaan. Haar borgtog en borgtogvoorwaardes is Woensdag deur landdros Roelf Konstabel verleng.
Hiervolgens moet sy van Maandag tot Vrydag twee keer per dag by die polisie aanmeld en nie van adres verander sonder die kennis van die ondersoekbeampte nie.
Jacobs en Weyers, het met ongeveer R400 000 wat Jacobs van Badenhorst Slaghuis moes gaan bank, verdwyn en is die volgende dag op Knysna in hegtenis geneem toe hulle per taxi na die Oos-Kaap wou gaan.
Die ondersoekbeampte, ao. Christo Olivier, het tydens die borgtogaansoeke van die twee getuig dat hulle R8 000 van die geld gebruik het om kos en klere te koop en ook vir verblyf te betaal.
Volgens hom het die polisie R335 000 by Jacobs en R9 000 by Weyers gekry.
Die saak dien voor landdros Roelf Konstabel en is vir 'n streekhofbeslissing tot 27 November uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Ma pleit dat seun nie borg kry nie
- Opvolg: Ma pleit vir seun
- Ma vra dat seun aangehou word
- Landdros sê môre oor borg
- Borgtogaansoek uitgestel
- Paartjie verskyn in die hof
- Paartjie in Knysna vasgetrek
- Fritz Jacobs gevang
- Nog geen nuus oor twee vermistes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'