Update
OUDTSHOORN NUUS - Patrick Rondganger, wat van die moord op Eric Xaxaka aangekla word, is die week borgtog in die Oudtshoorn-streekhof geweier.
Xaxaka is 'n dag voor sy 60ste verjaarsdag in sy huis vermoor en in 'n vlak graf begrawe. Rondganger is 'n vriend van Monica Manual, wyle Xaxaka se dogter.
Maandag, 9 Mei
Tydens die hofverrigtinge het die hoof-staatsaanklaer, Elana Goosen, die hof gevra om die misdryf van 'n skedule 5 na 'n skedu-le 6 te verander.
Dié versoek van Goosen kom na die getuienis van die ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux op 29 April, waarin hy getuig het dat Rondganger nie net die moord op Xaxaka gepleeg het nie, maar ook die selfoon van Xaxaka gesteel en verkoop het.
Volgens haar word die beskuldigde eintlik van drie misdrywe aangekla, die moord op Xaxaka, diefstal met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.
Goosen het ook verder aan landros Ntotombzandile Maseti verduidelik dat Rondganger 'n ambulans of die polisie kon gebel het toe hy besef het wat hy gedoen het, maar dat hy eerder gekies het om 'n graf te grawe om die oorledene in te begrawe.
Rondganger se prokureur, Brad Michaels, het die versoek teengestaan en gesê dat Rondganger na die moord bloot die selfoon kon geneem het omdat daar gevra sou word waarom Xaxaka se foon by die huis is en hy nie.
Michaels het aangevoer dat Rondganger nie die moord gepleeg het om die selfoon te steel nie en dat Le Roux nie getuig het op watter wyse die foon gesteel is nie.
Dinsdag, 10 Mei
Die staat het die ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux (wat vir ondersoekbeampte, ao. Willfred Appolis instaan) gevra om aan die hof te verduidelik wat in die bekentenis van Rondganger staan wat hy ten tyde van sy arrestasie afgelê het.
Le Roux het getuig dat Appolis 'n ver-klaring vanaf Rondganger ontvang het en dat hy die selfoon van Xaxaka gesteel het en dit by die taxistaanplek aan 'n vrou vir R280 verkoop het.
Rondganger het ook aan Appolis vertel waar hy sy bebloede langbroek versteek het.
Le Roux het die hof ook meegedeel dat Rondganger na die moord, Xaxaka se beddegoed, selfoon, sleutels en rugsak in 'n swart sak gegooi het.
Die items was volgens die verklaring vol bloed gewees. Volgens Le Roux sal die DNS-toetse sowat drie maande neem om verwerk te word.
Michaels het volgehou dat die staat nie bewyse het van wanneer die foon gesteel is nie.
"Daar is geen bewyse dat die geweld en aanranding 'n gevolg was van die diefstal nie."
Maseti het aan Michaels genoem dat hierdie misdrywe alles op een dag plaasgevind het, en dat dit nie saak maak of die roof voor, gedurende, of na die moord plaasgevind het nie.
Maseti het die misdryf van 'n skedule 5 na 'n skedule 6 verander.
"Rondganger het erken dat hy die moord gepleeg het, die foon gesteel het en dit verkoop het."
Michaels het aan die hof gevra om die saak as 'n uitsonderlike geval te sien en borgtog toe te staan aangesien hierdie Rondganger se eerste botsing met die gereg is.
Hy het verder aangevoer dat Rondganger twee kinders het en dat hy nie 'n vlugrisiko is nie.
Michaels het gesê dat Rondganger eintlik 'n lat vir homself gepluk het deur 'n verklaring af te lê en dat dit nie die houding van 'n geharde krimineel is nie.
"Rondganger is bereid om saam met die hof te werk."
Goosen het beswaar teen die versoek van Michaels gemaak en gesê dat hierdie nie 'n uitsonderlike geval is nie en dat die kinders van Rondganger hulle moeders het om na hulle om te sien en dat die publiek uit die aard van die saak sal reageer op Rondganger se vrylating.
"Hy het wreed opgetree en probeer om alle bewyse te versteek."
Maseti het tydens die uitspraak gesê dat Rondganger die vader van twee kinders is en indien hy vrygelaat word sy alternatiewe blyplek ver van sy kinders sal wees.
Sy het verder gesê dat sy vier maande oue baba se moeder, die dogter van die oorledene is wat ook 'n moontlike getuie kan wees.
Sy het ook verder verduidelik dat hierdie faktore nie as uitsonderlik gesien kan word nie.
Haar ander bekommernis was ook dat indien Rondganger vrygelaat sou word, hy moontlik van die getuienisse kan beïnvloed.
Maseti het ook gesê dat daar 'n petisie van die publiek was teen Rondganger se vrylating en dat sy veiligheid 'n moontlike gevaar vir hom kan inhou. Sy het dus borgtog geweier.
Die saak is tot 17 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.
Vorige artikels:
- Borgtog geweier
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek uitgestel tot Maandag
- Ronganger wag op uitspraak van landdros
- Borgtogsaak uitgestel vir uitspraak
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Man se liggaam in vlak graf gevind
- 60-Jarige in Bongoletho vermoor
- Vermiste persoon
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'