Update
OUDTSHOORN NUUS - Eric Xaxaka (59) se liggaam is verlede Vrydag in 'n vlak graf agter sy huis gevind nadat hy na bewering deur sy dogter se vriend en pa van hul vier maande oue seun vermoor is.
Patrick Rondganger, is Vrydag nadat die liggaam gevind is, in hegtenis geneem en het Maandag op aanklag van moord in die hof verskyn.
Die saak is tot 19 April vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel.
Eric is in sy huis in Zolastraat, Bongolethu vermoor. Hy, sy dogter, Monica Manuel en Rondganger, Manuel se vriend, het almal daar gewoon.
Hy sou verlede Donderdag sy 60ste verjaarsdag gevier het en is op dieselfde dag as vermis aangemeld nadat hy nie vir werk opgedaag het nie.
Patrick Xaxaka, Eric se broer, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat sy broer nog die Dinsdag, voor hy as vermis aangemeld is, by hom gekuier het.
"Hy, sy dogter en Patrick het by my gekuier. Hy het later gesê dat hy op pad is huis toe en dat Monica moet saamgaan. Hy het Patrick gevra om terug te gaan na sy familie in die Oos-Kaap.
"Patrick was lief vir drink en ons familie drink nie. Dit was ook nie die eerste keer dat Eric hom gevra het om te gaan nie. Ons vermoed dat Patrick vir Eric daaroor kwaad geraak het."
Volgens hom het Manuel en Rondganger verlede Woensdagoggend oudergewoonte hul vier maande oue baba by hulle gelos.
"Monica het gaan werk en Patrick is terug huis toe. Ons vermoed dit is toe wat hy Eric vermoor en begrawe het."
Xaxaka het vertel dat Rondganger glo na sy arrestasie verduidelik het dat hy Eric in die slaapkamer vermoor het.
Patrick Rondganger
"Soos ons verstaan het, het hy my broer uit die slaapkamer na die volgende vertrek geskuif en toe deur 'n venster, wat in 'n buitekamer oopmaak, gegooi. In die buitekamer staan twee leë yskaste. Hy het 'n gat in die grond van die buitekamer gegrawe en sy liggaam daar begrawe en die yskaste regop, bo-op die graf gesit. Hy het ook honde-ontlasting en ou bene daaroor gegooi dat die polisiehonde nie die liggaam moet kry nie."
Manuel sê toe sy die Woensdagmiddag van die werk af kom was haar pa nie daar nie.
"Ek het begin bekommerd raak, want hy kom nooit so laat huis toe nie. Ons het hom oral gesoek. Patrick het nog saam gesoek en saamgegaan om hom as vermis by die polisie aan te meld. Ek het nie Woensdag enigiets vreemd by die huis opgemerk nie. Die huis was silwerskoon. Ons weet nou nog nie hoe en waarmee hy so vinnig alles skoongemaak het nie."
Manual vertel dat sy en Rondganger die Donderdag voor die speurders die huis deursoek het, saam die huis reggetrek het.
"Ons wou net die huis netjies maak voor die mense kom. Patrick het baie senuagtig voorkom. Daar was sekere dele wat hy verkies het om self reg te trek, maar ek het nie op daardie stadium besef hoekom nie. Na my pa se liggaam gevind is het ek eers agter gekom dat hy bang was dat ek dalk op bloedspatsels of iets wat agtergebly het kon afkom."
Xaxaka vertel dat die Oudtshoorn-polisie se honde-eenheid Donderdag die huis en erf deursoek het en twee bloedspatsels gevind het.
"Messkrape en klein bloedspatsels is teen die slaapkamermuur, waar Eric geslaap het, gevind en reg onder die spatsels op die vloer, onder 'n los tapyt, is 'n kol bloed gevind. Die honde kon glad nie my broer onder die grond ruik nie."
Die forensiese deskundiges van Kaapstad is ontbied en het die huis en erf vir leidrade deursoek.
"Die bure het vir die polisie vertel dat hulle 'n werkery hier agter in die kamertjie gehoor het. Gewoonlik maak die bure die venstertjie langs die kamertjie oop as my broer hier werk, maar hulle het nie hierdie keer dit gedoen nie. As dit nie vir die bure was wat vir die polisie vertel het dat daar Woensdag 'n werkery in die agterplaas was nie, sou hulle hom nooit in die een meter diep graf onder twee yskaste gevind het nie."
Hy laat sy broer, skoonsuster, dogter en twee kleinkinders agter.
Patrick Xaxaka staan in die buitekamer waar Eric Xaxaka onder die yskaste begrawe was. Foto: Sonia Wahl
Patrick Xaxaka wys waar die bloed op die muur en onder die tapyt van sy broer se kamer gevind is. Foto: Sonia Wahl
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'