OUDTSHOORN NUUS - Die formele borgtogaansoek van Patrick Rondganger, wat van die moord op Eric Xaxaka aangekla word, is vanoggend tot môre (10 Mei) in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel.
Tydens die hofverrigtinge het die hoofstaatsaanklaer, Elana Goosen, ‘n versoek aan die hof gerig om die misdryf van ‘n skedule 5 na ‘n skedule 6 te verander.
Die versoek van Goosen kom na die getuienis van die ondersoekbeampte, oa. Martin le Roux, waarin hy getuig het dat Rondganger nie net die moord gepleeg het nie, maar ook die selfoon van Xaxaka gesteel en verkoop het. Goosen het aan die hof verduidelik dat Rondganger eintlik op drie verskillende misdade aangekla moet word.
Rondganger se prokureur, Brad Michales, het die versoek teengestaan en gesê dat Rondganger na dié moord bloot die selfoon kon geneem het omdat daar gevra sou word waarom Xaxaka se foon by die huis is en Xaxaka nie.
Xaxaka se kollegas en familie het weer die hofverrigtinge bygewoon.
Rondganger se familie was ook in die hof om steun aan hom te gee.
Xaxaka is 'n dag voor sy 60ste verjaarsdag in sy huis vermoor en daarna in 'n vlak graf begrawe. Rondganger is die vriend van Monica Manual, wyle Xaxaka se dogter.
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek uitgestel tot Maandag
- Ronganger wag op uitspraak van landdros
- Borgtogsaak uitgestel vir uitspraak
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Man se liggaam in vlak graf gevind
- 60-Jarige in Bongoletho vermoor
- Vermiste persoon
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'