OUDTSHOORN NUUS - Die formele borgtog-aansoek van Patrick Rondganger (35), wat van die moord op Eric Xaxaka aangekla word, wag op uitspraak van die landdros, Ntombizandile Maseti, en is tot Woensdag 4 Mei uitgestel.
Xaxaka is 'n dag voor sy 60ste verjaars-dag in sy huis in Bongolethu vermoor en daarna in 'n vlak graf begrawe. Die beskuldigde, is die vriend van Monica Manual, wyle Xaxaka se dogter.
Tydens die hofverrigtinge het ao. Martin le Roux, wat namens die ondersoek-beampte, ao. Wilfred Appolis, opgetree het, die aansoek teengestaan. 'n Petisie van meer as 2 000 handtekeninge is deur Le Roux aan die hof oorhandig.
Le Roux het ook aan die hof getuig dat Xaxaka aan 25 steekwonde aan sy nek en bors oorlede is.
Le Roux is van mening dat Rondganger 'n vlugrisiko is en nie vir borgtog in aanmerking geneem kan word nie.
"Rondganger het geweet wat hy gedoen het toe almal na Xaxaka gesoek het."
Die beskuldigde is ondervra waarna hy 'n bekentenis afgelê het en in sy pleitverduideliking genoem het dat hy die pa van twee kinders is en die weiering van borgtog 'n negatiewe invloed op sy kinders sal hê.
Verder het hy ook genoem dat hy geen ander sake teen hom het nie en hy van die begin af sy samewerking aan die polisie gegee het.
Rondganger se regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, het die hof meegedeel dat hy onskuldig gaan pleit omdat hy nie die misdaad gepleeg het nie.
Michaels het die hof versoek om in belang van geregtigheid borgtog aan Rondganger toe te staan omdat hy nie 'n vlugrisiko is nie en 'n alternatiewe adres op Joubertina het waar hy tydens die verhoor sal kan bly.
Michaels het aansoek gedoen om R1 000 borgtog aangesien dit die eerste keer is wat Rondganger met die gereg bots.
Die staatsaanklaer, Ilana Goosen, het die hof versoek om borgtog aan Rondganger te weier omdat die staat 'n baie sterk saak teen hom het en die hof ook Rondganger se veiligheid in ag moet neem.
Vorige artikels:
- Borgtogsaak uitgestel vir uitspraak
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Man se liggaam in vlak graf gevind
- 60-Jarige in Bongoletho vermoor
- Vermiste persoon
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'