OUDTSHOORN NUUS - Die storie van die rekonstruksie van 'n ortodokse sinagoge of Shul, uit St. Johnstraat in ons dorp se museum is 'n baie interessante verhaal wat in die laat 19de eeu sy aanloop gekry het.
Die vervolging van die Jode in die Russies beheerde Balkanstate Pole, Litaue, Estonia en Latvia het die Jode gedwing om nuwe tuistes te gaan soek.
Die jongeres soos die legen-dariese Max Rose byvoorbeeld, is dikwels vooruit gestuur om in die Weste 'n beter heenkome te vind. Sodra hulle in die vreemde hulle voete gevind het en die nodige finansies bymekaar gemaak het, het die res van 'n gesin ook die uittog begin. Jode het veral na Amerika verhuis, maar daar was Jode wat besluit het om hulle eerder in die Kaapkolonie te vestig.
Veral die tradisievaste Litause Jode het met stoombote in Kaapstad aangekom waarvandaan hulle na die binneland gereis het.
Vanaf 1881 het van hulle Oudtshoorn, waar die verebedryf al reeds op dreef was, ingekom. In Oudtshoorn het Jode uit sowel 'n plattelandse omgewing, met die stad Kelm as sentrum, as uit die stedelike omgewing van die industriële stad Shavli gekom.
Die verskil in lewenshouding tussen stedeling en plattelander sou later tot die stigting van twee sinagoges lei.
Die eerste generasie het as smouse of bondeldraers 'n lewe gemaak deur handelsware te voet of met 'n perdekar van plaas tot plaas te gaan verkoop.
Die Boere en die nuwe immigrante leer mekaar gou verstaan, die Yiddish wat hulle praat, is ook van Germaanse afkoms soos Afrikaans en Nederlands en beide Boer en Jood ken die Oud-Testament.
By die boere het hulle die volstruisvere aangekoop wat hulle na Europa en Amerika sou verskeep waar volstruisvere 'n gesogte modeartikel was. Die oorgrote meerderheid het mettertyd bedrewe vere-agente geword en welgesteld geraak.
Hulle bou ook sandsteenherehuise soos Mimosa Lodge en Montaguhuis en vestig groot welvarende sakeondernemings. Hulle kinders presteer op Boys' High en gaan in Europa verder studeer om hulle as dokters, tandartse en regs-geleerdes te gaan bekwaam.
Die Joodse bevolking se invloed in die ekonomiese ontwikkeing van Oudtshoorn het so sterk geraak, dat Oudthoorn die bynaam van Klein Jerusalem gekry het.
In 1884 het 30 Jode in 'n private woonhuis vir aanbidding byeengekom Soos die Joodse bevolking gegroei het, het hulle die plaaslike veremarksaal gebruik.
In die daaropvolgende jare het die Joodse gemeenskap 'n dubbele erf in Queenstaat (huidige Baron van Reedestraat) ontvang en het die Afrikanergemeenskap geld geskenk om met die bouery te help.
Ds Stegman het sy gemeentelede aangemoedig om die Joodse gemeenskap by te staan. Die argitek George Wallis het die Shul ontwerp en op 26 Januarie 1888 is die hoeksteen gelê en op 12 Desember 1888 is die shul ingewy.
Die gemeente het toe uit 250 siele bestaan. Op die erwe word later ook 'n gemeenskapsaal en 'n skoolgebou opgerig vir die Joodse kinders (vandag die crèche Little Bo-Peep).
Onderlinge spanning ontwikkel tussen die meer behoudense streng tradisionele Jode uit Kelm wat hulle verset het teen die meer liberale praktyke van die groep uit die industriële Shavli.
Die ortodokse groep besluit om weg te breek en vestig die tweede sinagoge met die bynaam die Greener Shul in St. Johnstraat (op vandag se parkeerterrein agter Shoprite). Samuel Lazarus een van die vroegste pioniers het 'n klein replika van die Heilige Ark in Kelm besit (die fokuspunt in 'n sinagoge waar die tora gebêre word).
Vir die nuwe shul word 'n volskaalse re-plika daarvan in gips gemaak. Ene Kaplan het die indrukwekkende Heili-ge Ark gemaak wat vandag in die CP Nel-museum staan en 'n voorbeeld is van die ou Joods-Litause kunsstyl. In die Greener Shul is die gemeentelede deeglik onderrig in die Joodse wette en tradisies.
Die St. Johnstraat sinagoge, Greener Shul, voor hy gesloop is.
Die verebedryf se ineenstorting na die Eerste Wêreldoorlog was 'n ramp. Welgestelde boere en Jode verarm oornag en baie verlaat die distrik om nooit weer terug te kom nie.
Teen 1918 het die getal Joodse inwoners tot 1 073 gedaal. Die bywoning en onderhoud van die twee sinagoges gaan agteruit. Vyftig jaar na sy ontstaan, sluit die Queen Street sinagoge sy deure en word die shul in St. Johnstraat deur al die oorblywende Jode gebruik.
In 1975 word die besluit weer omgekeer en word daar na die Queen Street sinagoge terugekeer en die Greener Shul word afgebreek, maar die verleentheid word in 'n geleentheid omskep. 'n Briljante plan word beraam: die Greener Shul sal in die CP Nel-museum gerekonstrueer word.
'n Kamer word daarvoor afgesonder en die belangrikste elemente word oorgeplaas, nl die Heilige Ark, die Bima (die verhogie in die middel van 'n sinagoge waarvandaan die Rabbi die diens lei) 'n paar banke, die swaar kandelaar, van die houtpanele en nog ander klei-ner artifakte soos die nok van die sinagoge wat in die voorportaaltjie voor die uitstalling staan gemaak is.
Hiermee word die gewyde atmosfeer van die shul herskep en word dit een van die museum se unieke uitstallings en 'n waardige nalatenskap van die Oudtshoorn Jode wat 'n groot impak op ons dorp se geskiedenis gehad het.
Bron: twee gedenkboekies onderskeidelik van 1984 en 2004
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'