Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Dat die De Grootvoël Rally ontwikkel tot een van die land se gewildste motorfiets-saamtrekke is gewis. Daar was bykans twee keer meer motorfietse en motorfietsentoesiaste by die Kango-bergoord as verlede jaar.
Volgens terugvoer op sosiale media en vanaf motorfietsklubs, is elkeen wat hier was van voorneme om volgende jaar weer terug te keer.
Vanjaar was die tweede jaar dat dié saamtrek aangebied is en binne slegs 'n jaar is veel meer aktiwiteite aangebied om te geniet.
Die aktiwiteite in die dorp het 'n oggend van toertjies in Vredestraat ingesluit. Daarna het spoedvrate op die aanloopbaan by die Oudtshoorn-lughawe mekaar die stryd aangesê om te bepaal wie kan die hoogste snelheid bereik.
Motorfietsklubs van so ver as Oos-Londen en Fochville het die rit na die Klein-Karoo aangepak. Reën en stormwind het Vrydagmiddag almal laat skarrel en koes, en 'n aantal gazebo's en tente is in die storm beskadig. Van die ryers het in gietende reën opgedaag en moes hulself maar in een van die groot tente besig hou totdat die reën opgeklaar het en hulle kamp kon opslaan.
Die situasie is nog verder vererger toe 'n kragonderbreking die hele omgewing getref het.
Sover vasgestel kon word, was daar een ongeluk waarin 'n motorfietsryer beseer is en in die hospitaal opgeneem is.
Die ongeluk het in een van die draaie in Schoemanspoort plaasgevind toe die ryer beheer verloor het en die motorfiets 'n versperring langs die pad getref het.
Die motorfiets is onherstelbaar beskadig, maar dit blyk dat die motorfietsryer voor die impak van die motorfiets afgegooi is en sodoende ernstiger beserings vrygespring het.
Die aard van sy beserings is nie bekend nie, maar hy was vir die duur van die saamtrek in die hospitaal. Volgens ander motorfietsryers is die beseerde van Knysna.
Die hoogtepunte van die saamtrek was waarskynlik die drie splinternuwe motor-fietse wat Saterdagaand met gelukstrekkings gewen is en die huwelik van Danie en Ivanka Tessner wat lede is van die Universal Riders van Strand.
In 'n stampvol hooftent en met die tradisionele strooimeisies en strooijonkers om hulle te ondersteun, is hulle in die huwelik bevestig
Met gerugte dat die Buffalo Rally, wat deur die Nomads-klub van die Kaap gereël word, moontlik nie volgende jaar aangebied sal word nie, sal De Grootvoël Rally 'n nog groter trekpleister wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’