OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope aantal maande is 44 leerders van Oudtshoorn hard aan die werk om geld in te samel vir 'n koortoer na die buiteland.
Dié leerders is lede van die Suid-Kaap kinder- en jeugkore wat volgende jaar na Europa toer.
Die Suid-Kaap Kinderkoor bestaan reeds vanaf 1996 en het al verskeie kere oorsee getoer en aan kompetisies deelgeneem.
Die Jeugkoor is onlangs vir ouer leerders gestig.
Albei kore bestaan uit leerders van skole in George, Mosselbaai, Hartenbos en Oudtshoorn en staan onder leiding van Jan Erik Swart.
Volgens Retha van Zyl, opvoeder by Langenhoven Gimnasium en stemafrigter van albei kore, vind die toer vanaf 22 April tot 6 Mei 2026 plaas.
"Die kore neem deel aan die Europees Muziek Festival voor de Jeugd in België en tree ook op in Duitsland en Nederland. Hierdie is 'n ongelooflike geleentheid vir ons kinders. Die twee kore is die enigste kore uit Afrika wat deelneem."
Van Zyl sê die koste per koorlid beloop ongeveer R40 000 en almal werk hard om borge te kry, aangesien talle ouers dit nie kan bekostig nie. Die kore is as nie-winsgewende organisasie geregistreer en terwyl borge genader word, woeker die koorlede ook self om geld te verdien vir die toer.
Elke koorlid poog om soveel geld as moontlik in te samel vir sy of haar koste deur persoonlike projekte soos om koekies en ander items te verkoop en vakansiewerk te doen.
Daar is gesamentlike projekte soos lootjievorms, gala-aande en konserte om ook geld in te samel," sê sy.
Twee van die jeugkoorlede, Gabriël Kruger en sy vriend, Wihan du Preez, was by die afgelope naweek se Pure Mark by die Emporium waar hulle hul stalletjie bedryf het om Kerskoekies, Kersbome en lootjies te verkoop.
Volgens die twee is dit harde werk, maar is die toer vir hulle 'n geleentheid wat nie misgeloop kan word nie. "Tussen ons twee moet ons R60 000 bymekaarmaak, dit is baie koekies en baie ure, maar dit is die moeite werd," het Gabriël Saterdag gesê.
Lootjies
Van Zyl noem dat baie van die koorlede gedurende die vakansie met lootjies en borgvorms gaan rondbeweeg en sy vra dat inwoners hulle sal ondersteun. Indien enigiemand meer inligting oor die toer wil bekom en die fondsinsameling wil ondersteun kan hulle kan kontak maak met Jan Erik Swart by 084 645 9320 of Retha van Zyl by 082 894 4111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’