OUDTSHOORN NUUS - Die brandweer het verlede Vrydag, 28 November, vir ure gespook om 'n brand te blus wat in die vroeë oggendure by die United Congregational Church (UCC) in Andersonstraat, Dysselsdorp, uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend, maar die kerkbestuur het 'n klag van brandstigting gelê, aangesien daar geen elektrisiteitstoevoer na die gebou was nie.
Die gebou word as waarskynlik die oudste kerk in die Klein-Karoo beskou.
Volgens Keanan du Plessis, die kerk se tesourier, is die kerkraad Vrydagoggend omstreeks 05:00 van die brand in kennis gestel.
"Die UCC dra groot betekenis vir die dorp, omdat dit die simbool van Dysselsdorp se ontstaan is. Hoewel die gebou die afgelope 20 jaar nie aktief gebruik is nie, het dit steeds enorme waarde vir die gemeenskap," sê hy.
Du Plessis sê die dorp vier volgende jaar sy 190ste bestaansjaar, en die kerk sou die middelpunt van die vieringe gewees het.
"Ons het verlede week vergader en besluit om die gebou op te knap. Die kerk is die afgelope twee dekades nie meer gebruik nadat 'n nuwe gebou opgerig is nie. Tog is die oorspronklike kerk bewaar, omdat die dorp rondom dit ontwikkel het en dit deur die jare ook twee skole gehuisves het," verduidelik hy.
Du Plessis vertel dat die gemeente Sondag tydens die erediens uiters emosioneel was. "Baie inwoners is vanuit daardie kerk getrou, gedoop en selfs begrawe. Die gebou hou vir die meeste mense in die dorp kosbare herinneringe," sê hy.
Volgens hom is daar ook nog nie besluit wat met die gebou gaan gebeur nie.
Kaptein FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat 'n klag van brandstigting geopen is. "Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om dit aan die polisie te rapporteer," sê hy.
Geskiedenis van die kerk
Dysselsdorp het in 1833 ontstaan as 'n sendingstasie vir vrygestelde slawe en onteiende Khoekhoen wat in die gebied gewoon het. Die nedersetting was aanvanklik as Dysselskraal bekend, maar die naam het omstreeks 1843 na Dysselsdorp verander.
In 1836 is die eerste kerkdienste, onder leiding van eerw. William Anderson, onder 'n groot boom gehou. Op 30 November 1836, presies 189 jaar en twee dae voor die kerk afgebrand het, het Dysselskraal sy transportakte ontvang en formele verbintenis met die Londense Sendinggenootskap verkry.
Met die aankoms van John Melville is daar in 1839 besluit om 'n kerkgebou op te rig. Die gebou is deur die gemeente self opgerig - hulle het die stene vervaardig en vervoer, en ook 'n pastorie naby die kerk gebou. Die kerk het sitplek vir sowat 300 mense gehad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’