OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Oudtshoorn, Rehanna Khatib (41), het op 1 Desember in die Oudtshoorn-landdroshof op verskeie aanklagte van bedrog verskyn, nadat sy na bewering verskeie persone ingedoen het met vals beloftes oor die verkoop van meubels.
Sy het reeds in Mei vir drie vorige aanklagte verskyn, maar die saak is uitgestel tot Maandag waar nog 'n klag tot die klagstaat gevoeg is.
Die saak is tot vandag, 4 Desember, uitgestel.
Khatib staan nou tereg op vier aanklagte van bedrog wat verband hou met die beweerde verkoop van meubels en ander toebehore waarvoor sy die geld ontvang, maar nooit die items aan die kopers voorsien het nie, omdat sy dit nie besit het nie.
Sy bly in aanhouding.
Volgens een van die klaers het die vrou na bewering aan individue boodskappe gestuur waarin sy beweer dat sy glo meubels van 'n hotel wat toegemaak het teen bekostigbare pryse verkoop. Sy het dan 'n deposito geëis, maar het na bewering nooit die meubels gelewer of die deposito's terugbetaal nie. In November het nóg klagtes na vore gekom.
Een slagoffer, wat verkies om anoniem te bly, sê die verdagte stuur glo net boodskappe aan mense wat sy goed ken, en adverteer nie die aanbiedings op Facebook nie.
"Van die items wat sy gesê het beskikbaar is, was banke, televisies, beddens, beddegoed en 'n yskas. Ons het nooit die items ontvang nie. Toe ons die geld terugvra, het sy gesê daar is 'n tussenganger en dat die oponthoud by hom lê."
Die slagoffer waarsku ander inwoners: "Ons wil hê mense moet hiervan weet. Moet nooit goedere koop voordat jy nie self die produk gesien het nie, selfs al ken jy die persoon. Indien jy deur 'n bedrieër ingedoen word, gaan lê 'n klag. Die kans is goed dat jy nie die eerste een is wat bedrieg is nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’