OUDTSHOORN NUUS - “Ons is by die draaipunt verby en Suid-Afrika gaan die paal haal.” Dit was die woorde van die bekroonde ekonoom, dr. Roelof Botha, verlede Vrydag, 28 November.
Botha was die geleentheidspreker tydens die algemene jaarvergadering van KKEB (Klein Karoo Eiendoms Beperk) en het klem gelê op landbou as kardinale deel van die land se herstel.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika die 32ste grootste uitvoerder van landbouprodukte in die wêreld is en selfvoorsienend in voedsel is. Na die enorme skade van staatskaping onder Zuma, wat die land van R2,8 triljoen gestroop het, het die herstelproses begin en landbou is ’n integrale deel daarvan.
Volgens hom is die uitdaging om van oorblywende kaderaanstellings ontslae te raak en te verseker dat die vaardigheidsvlak in die openbare sektor gelykstaande is aan dié van die privaat sektor.
Klein Karoo Eiendoms Beperk
KKEB is ’n landboumaatskappy bestaande uit bedryfsfiliale: Klein Karoo Agri (KKA), Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD) en Klein Karoo Saad (KKS). Die groep se jaarverslag is tydens die vergadering voorgehou en toon uitstekende groei in die groep wat sy ontstaan 80 jaar gelede in 1945 as die Klein-Karoo Landboukoöperasie gehad het.
Die voorsitter van KKEB se direksie, Johannes Delport, sê in die jaarverslag dat die grootste uitdagings wat ’n direkte impak op die landbou het, faktore soos die bek-en-klouseer uitbrake, Avian Influenza, Eskom-verhogings en die onlangse hoër Amerikaanse invoertariewe is. Ten spyte van dié uitdagings was die finansiële jaar vir KKEB weer ’n besondere goeie jaar met ’n rekord aanvullende betaling aan die KKS-produsente en goeie lojaliteitbetalings aan die KKA- en KKFD-produsente.
Hoogtepunte
Van die hoogtepunte die afgelope jaar was die ontwikkeling van die Jou Eie-winkelsentrum wat op 31 Oktober 2024 geopen is, die opening van die Suzuki-agentskap en ook die oprigting van ’n finansiële dienste onderneming (KKFD). KKFD se fokus is om as tussenganger ten opsigte van versekeringsprodukte op te tree met maksimum waarde-oordrag aan produsente. KKFD se bestuurspan is uitgebrei deur die onlangse aanstelling van Laurika van Rensburg met meer as 20 jaar se spesialis-ondervinding.
Terblanche du Plessis, besturende direkteur van KKA, het gesê die besluit om die oop stuk grond langs KKA se handelstak as inkopiesentrum te ontwikkel, was ’n uitstekende beleggingsbesluit wat reeds vrugte afwerp.
David Malan, besturende direkteur van KKS, het tydens sy voorlegging gesê saadproduksie is die kern van enige voedselketting en dat die afgelope jaar weer 'n bewys daarvan was. Ten spyte van groot uitdagings soos handelsoorloë in die wêreld en die VSA-tariewe het KKS vanjaar hulle beste jaar ooit beleef.
Pieter Barnard, bestuurder van KKEB, het aangedui dat die gGroep onlangs ’n digitale platform bekendgestel het waar aandeelhouers en ander belanghebbendes klagtes, voorstelle en versoeke anoniem kan rapporteer (www.kleinkaroo.briefseal.co.za). Verder is beklemtoon dat die groep daartoe verbind is om ’n goeie balans tussen produsentewelvaart en ’n gesonde groep van maatskappye te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’