OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Eden-straatmylreeks, aangebied deur die Klein Karoo Atletiekfonds, het vanjaar uitgebrei met die byvoeging van die George-sraatmyl wat deel vorm van die George-sport en kultuurfees.
Die reeks skop op 14 Desember af met die George-straatmyl in Yorkstraat, gevolg deur die Klein-Karoo-straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word.
Die reeks word afgesluit in Hartenbos met die ATKV-straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Heelwat van Suid-Afrika se topatlete het reeds aangedui dat hulle aan die reeks kom deelneem.
Manswedlope
Die manswedlope beloof vuurwerke wanneer Werner Gouws, 'n belowende junior oor 800 m, sy opwagting teen gevestigde sterre maak. Hy sal die stryd aansê teen Thinus Erasmus. Nog 'n sterk teenstander is Beyon Prince, 'n voormalige jeugkategoriewenner en uitblinker uit Basil Abelse se Riversdal Super Kids-program.
Verdedigende kampioen Keanu Domin-go (beste 1 500 m van 3:36) en die voor-malige jeugwenner Corné de Fouw keer ook terug.
Vrouewedlope
Veelvuldige voormalige wenner Simonay Weitsz sal sterk mededinging kry van verlede jaar se 18-jarige kampioen, Andrea Steynberg (PTC). Hulle word vergesel deur Alri Verster, dogter van Springbok Jean en Alta Verster en Jandri Snyders van Hartenbos, wat 'n sterk tuisdorp-element aan die byeenkoms toevoeg.
Met Andrea Steynberg wat haar titel verdedig en Simonay Weitsz wat nog 'n kroon jaag, beloof die opevroueafdeling 'n spannende stryd tussen ervaring en jeug.
Prysgeld
Meer as R60 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is NWU, ATKV Oorde Hartenbos, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Oudtshoorn-munisipaliteit, George-munisipaliteit, Mosselbaai-burgemeesterskantoor en MSEC. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Suzuki Oudtshoorn, Surval, Kleinplaas, Santa Fe Spur, ASWD, ASICS, TOP GEAR, Eden FM, Oasis Water en Jakhals Events Management.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en beginnersatlete word aangemoedig om ook deel te neem.
Atlete kan in vyf ouderdomskategorieë in die Eden-straatmylreeks meeding - Jong Talent (2011-2016), Jeug (2008-2010), Junior (2006-2007), Ope en 40+. Daar is ook 'n prys vir die beste ASWD-mans en -vroueatleet.
Meer inligting kan gevind word op www.edenmiles.co.za sowel as die Eden Street Mile Series se Facebook-blad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’