OUDTSHOORN NUUS - 'n Gesin van Bridgton staar 'n uiters sombere Kersfees in die gesig nadat hul 11-jarige dogter, Ivory Josephs, Saterdagmiddag, 29 November, in Petunialaan, op die hoek by Toekomsrus VGK Môreson Bridgton, deur 'n bakkie doodgery is.
Sy het op die toneel aan haar beserings beswyk.
Ivory was 'n gr. 5-leerder aan Colridge Primêr. Volgens haar ma, Irene, het Ivory net die middag gou huis toe gekom om saam met haar familie koek te eet. Daarna het sy skoon klere aangetrek en vertrek om haar tante, Antjie Jansen, te be-soek, 'n gebruiklike vakansiereëling waarvolgens sy dikwels by Jansen tuisgegaan het.
Haar familie is in 'n toestand oor die ongeluk. "Sy was skaars weg toe iemand ons bel om van die ongeluk te vertel. Ek was geskok en kon dit nie glo nie. Hoe kan dit ons Ivory wees?" sê haar ma, Irene Josephs.
Die familie beskryf Ivory as 'n tipiese tiener wat baie lief vir TikTok was, maar ook 'n stil kind wat meestal tuis gebly het. "Sy was 'n lieflike, gehoorsame dogter. Ons kan steeds nie glo dat sy weg is nie. Haar dood lê swaar op ons harte."
Teen druktyd was die begrafnis-reëlings nog nie afgehandel nie.
Volgens die familie is die bakkie se bestuurder op die toneel in hegtenis geneem. Daar word beweer dat hy ten tyde van die ongeluk onder die invloed van alkohol was. Die bakkie is ook glo 'n werksvoertuig.
Ivory laat haar ma, Irene, suster, Cleo-Jade (5), broer, Ashwill (8), haar oupa en ouma, Jeffrey en Susan Josephs, en haar tante, Antjie Jansen, agter.
Die Oudtshoorn Community Against Crime (Ocac) hou vandag, Donderdag 4 Desember, om 15:00 'n kranslegging vir Ivory by die plek waar die ongeluk gebeur het.
Skool geruk
Peter Adams, skoolhoof van Colridge Primêre Skool (CPS), het die skool se skok en ongeloof oor die ongeluk uitgespreek. "Ons skool het met skok die tragiese nuus ontvang. Ons wil ons innige meegevoel en simpatie teenoor haar ouers en breë familie met die verlies van hul engelkind uitspreek. U verlies is ons verlies, u hartseer is ons hartseer. Ivory, die gordyn het toegemaak op jou aardse lewe wat tot 'n einde gekom het, maar die gordyn het oopgegaan op die Hemelse verhoog waar die ewige (beter) lewe vir jou begin. Jou sitplek is leeg, jou stem sal ons nie weer by CPS hoor nie, maar die mooi herinneringe van jou voetspore sal vir ewig in ons harte bly. Ons is bly vir die mooi oomblikke wat ons saam met jou kon deel en sal jou nooit vergeet nie. Vlieg hoog en wees vry soos die wind."
Die skool het besluit om van Dinsdag 2 Desember daagliks om 08:00 'n kers aan te steek en 'n oomblik van stilte te handhaaf ter nagedagtenis aan Ivory.
Adams sê hulle het Maandag die skool se rapporte gefinaliseer. "Ivory het haar gr. 5-jaar geslaag - sy het volhard en was suksesvol, en ons is verskriklik trots op haar."
Die skool beplan 'n muntlegging vir later die week om Ivory se familie te ondersteun. Inligting in dié verband sal later aan die skoolgemeenskap gekommunikeer word.
Volgens luitenant-kolonel Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder is ‘n klag van mansslag geregistreer na die ongeluk. “Die beskuldige is in hegtenis geneem op klagtes van manslag en dronkbestuur en het hy reeds in die Oudtshoorn-landroshof verskyn waar die saak uitgestel is.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’