KLAARSTROOM NUUS - Die projek om die laaste twee grondstrate in Klaarstroom te plavei het nie net die woonbuurt verbeter nie, maar ook aan 23 inwoners werk van R247 000 verskaf.
Prins Albert-burgemeester, Linda Jaquet, het met die amptelike opening van Louise Arries- en Kloofstraat op Maandag 1 Desember gesê hierdie is die dorp se finale padopgraderingsprojek en is daar nou geen grondpaaie meer in Klaarstroom nie.
“Hierdie projek was nie net oor ons verbintenis tot die verbetering van infrastruktuur in al ons dorpe nie. Dit het ook ons nakoming van ons belofte bewys om die lewensgehalte van al ons inwoners te verbeter. Klaarstroom se inwoners kan nou toegang van - geen stof meer in die somer nie en geen modder meer in die winter nie, geniet. Dit is hoe plaaslike regering se dienslewering lyk,” het Jaquet gesê.
Die projek van R3,6 miljoen het 126 m plaveisel in Louise Arriesstraat, 144 m plaveisel in Kloofstraat, 136 m nuwe sypaadjies in Kloofstraat sowel as die opgradering van stormwaterinfrastruktuur behels.
As ’n simboliese viering van die projek het die kinders van Mickey Mouse-kleuterskool moddervoetspore op die nuwe plaveisel gelaat. Jaquet sê hierdie gebaar was vir haar die hoogtepunt van die oggend.
Klaarstroom is deel van die Prins Albert-munisipaliteit en ’n gewilde stilhouplek vir toeriste wat deur Meiringspoort reis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’