OUDTSHOORN NUUS - ’n Groepie besorgde gemeenskapslede het Sondagmiddag, 30 November, vanaf die Môreson VGK in Petunialaan na die Bongolethu-polisiestasie gestap om ’n versoekskrif te oorhandig.
Die optog, Purple for Peace March, is deur Women for Peace en die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) gereël as deel van die 16 dae van aktivisme teen geen geweld teen vroue en kinders.
Elaine Hobanie, een van die organiseerders het gesê die optog is ’n simbool van solidariteit teen geslagsgebaseerde geweld.Nog een van die organiseerders, Bonita Telemachus, het gesê die optog is die begin van ’n hele aantal optredes en projekte wat die vrouens beplan.
“Ons begin klein, maar ons wil die boodskap aan die gemeenskap en aan die owerhede uitdra dat geweld teenoor vrouens en enige geweld in gesinsverband baie ernstig is. Ons versoekskrif vra dat hierdie kwessie dringend aandag moet kry.
Dit is so erg dat dit al as ’n nasionale ramp verklaar is, en net die gemeenskap kan dit stop.”
Daar is reeds twee weke gelede besluit om die optog op die hoek van Petunialaan en Arnold de Jager-rylaan te begin, maar intussen was daar Saterdagmiddag, 29 November, ’n tragedie op dieselfde plek toe ’n meisie van 13 deur ’n motor getref en dood is terwyl sy op die sypaadjie gestap het.
Die optog het Sondag op die toneel van die ongeluk met ’n gebed begin, waarna die groep met polisie begeleiding na die Bongolethu-polisiestasie gestap het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’