OUDTSHOORN NUUS - Daar is min Oudtshoorniete wat nie vir Mornay Thysse ken nie. Hy het verlede week op 21 November sy 37ste jaar as werknemer van Oudtshoorn-munisipaliteit gevier waarvan hy 34 jaar aan die dorp se reddingsdienste verbonde is.
Hy is bykans elke dag iewers op 'n reddingstoneel, by veiligheidsinspeksies of op die spoor van 'n onwelkome slang in iemand se huis of tuin.
Die 57-jarige brandweerman is in Oudtshoorn gebore en het as jong knaap van 13 reeds in slange belanggestel en hulle met 'n mikstok op Spekkop gevang en weer vrygelaat.
"Ek het op skool besluit om 'n brandweerman te word, want ek wou mense in nood help en 'n verskil in ons gemeenskap maak," sê hy.
Op tonele waar mense in nood is na botsings, natuurrampe of brande is hy telkens die laaste persoon wat die toneel verlaat. Dit is nie altyd lewensgevaarlike situasies nie.
So was hy 'n aantal jare gelede vir ure op 'n toneel in die veld waar 'n klomp klein hondjies in 'n erdvarkgat ontdek is. Een van die hondjies het so diep weggekruip dat dit ure se grawe geneem het, om hom te bereik. Mornay het die hondjie aangeneem. Dit is dinge soos hierdie wat hom elke dag laat opstaan om met 'n positiewe gesindheid en blymoedigheid te gaan werk.
"My liefde vir die interessante werk wat ek doen en om daar te wees vir my medemens is my rede om werk toe te gaan."
Soos met elke werk is daar dele wat hy graag doen en dele wat hom diep tref en jare by hom bly.
"Die gunsteling deel van my werk is om mense en diere te red, op die reddingsvoertuig te werk en om slange te vang. Die moeilikste deel van ons werk is botsingstonele waar kinders betrokke is en sterf, mens vergeet dit nie."
Tuis teel hy voëls as 'n stok-perdjie en spandeer tyd met sy vrou, Lucinda, wat volgens hom nooit bed toe gaan voordat hy veilig van 'n toneel af weer tuis kom nie.
Sy raad aan jongmense wat begin werk: "Leef jou passie uit, geniet wat jy doen en stel God eerste met alles."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’