Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-streekhof het 'n Nigeriese man en 'n Suid-Afrikaanse vrou tot direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hulle aan dwelmhandel skuldig bevind is.
Die hof het bevind dat, Vuyisekha Miranda Mzwakhe (30), Victor Ikechukwu Udoh (33), vrywillig deur sosiale media genader het en haarself as 'n dwelmmuil aangebied het om dwelms tussen verskeie stede in Suid-Afrika te vervoer.
Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), is Mzwakhe tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, terwyl Udoh 20 jaar vir dwelmhandel opgelê is.
Daarby het Udoh 'n verdere twee jaar tronkstraf gekry vir die oortreding van die Immigrasiewet, nadat daar vasgestel is dat hy al meer as vyf jaar onwettig in die land was. Sy effektiewe vonnis beloop 22 jaar. Die hof het albei beskuldigdes ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Volgens die streekhofaanklaer, Hyron Goulding, het Mzwakhe vir Udoh gekontak om uit te vind of hy van 'n Nigeriër in Oudtshoorn weet, aangesien sy bereid was om "goed" vir hom van Plettenbergbaai na Johannesburg of Durban te vervoer.
Udoh het aanvanklik haar bereidwilligheid bevraagteken, maar sy het dit bevestig. Udoh het vervolgens geld in haar bankrekening inbetaal sodat sy van Gqeberha na George kon reis en vir 'n gastehuis kon betaal.
'n Gastehuiseienaar het getuig dat 'n man op 15 Oktober 2021 'n kamer bespreek het. 'n Pakkie is later deur 'n koerier afgelewer. Die man het die eienaar gebel om na die pakkie te verneem en bevestig dat dit aan hom behoort. Mzwakhe het later die dag ingeboek en Udoh het kort daarna opgedaag.
Die twee het daarna per taxi na Oudtshoorn gereis. Die polisie het egter 'n wenk ontvang oor 'n verdagte paartjie in 'n taxi, en 'n padversperring is opgerig. By die versperring het beamptes die voertuig met die toestemming van die bestuurder en passasiers deursoek.
Mzwakhe het 'n boks op haar skoot gehad, wat sy as Udoh s'n geïdentifiseer het. Udoh het haar sak gedra waarin haar klere, identiteitsdokument en paspoort was.
Die boks het 743 gram metamfetamien (tik) bevat, met 'n straatwaarde van R260 050. Beide is in hegtenis geneem.
Verweer en hofbevinding
Mzwakhe is aanvanklik op borgtog vrygelaat, maar later gearresteer nadat sy nie in die hof opgedaag het nie. Sy het 'n jaar in aanhouding deurgebring voor vonnisoplegging. Udoh wie se borgtog teengestaan is, het reeds vyf jaar in aanhouding deurgebring voor die vonnis.
Mzwakhe het onskuldig gepleit en beweer dat sy nie geweet het wat in die boks is nie. Udoh het op sy beurt aangevoer dat die deursoeking en beslaglegging ongrondwetlik was.
Goulding het egter verduidelik dat Artikel 22(a) van die Strafproseswet polisie toelaat om sonder 'n lasbrief te deursoek indien daar toestemming is. Die padblokkade was gemagtig, en die dwelms is in Mzwakhe se besit gevind.
Getuienis het verder gewys dat Udoh die meesterbrein was en dat Mzwakhe gewillig was om as dwelmmuil op te tree. Sosiale media-boodskappe het getoon dat sy bereid was om vir finansiële gewin betrokke te raak.
Die NVG het die swaar vonnis verwelkom en beklemtoon dat dwelmmisdaad gemeenskappe verwoes en tot ernstige geweldsmisdade bydra.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’